Leer jou kind ‘n liefde vir wiskunde

Unsplash

Ouers se gesindheid teenoor wiskunde kan ’n groot invloed hê op hoe hul kinders oor wiskunde voel.

Hul ouers se gesindheid, kan maak dat ’n kind nie die selfvertroue het om te probeer nie. Maar, dit is nooit te laat nie en met die nodige aanmoediging en hulp, kan die meeste kinders wiskunde baasraak.

Suid-Afrika vaar nie te waffers op die wêreldranglys vir wiskundeprestasie nie, en daarom is dit noodsaaklik dat die wiskundemonster vierkantig in die oë gekyk moet word.

Dis hier waar ouers ’n groot rol kan speel, want afgesien van wat hul eie ervaring was, daar is deesdae soveel hulp en raad beskikbaar dat die meeste kinders goed kan vaar in wiskunde, veral as ouers hulle toelaat om in hulle moedertaal onderrig te word.

Afrikaans.com gee riglyne oor wat ouers en onderwysers kan doen om kinders van kleins af nuuskierig te maak oor die wonder van getalle sodat hulle sommer vroeg al syfers met selfvertroue sal aanpak.

Die kind moet glo hy kan:

• Die kind wat glo hy kan iets doen, het meer selfvertroue en sal meer geneë wees om te probeer. Daarom is dit belangrik om die kind se sterkpunte uit te lig, want dit help om sy selfvertroue te versterk wat sal help om wiskundige vaardighede baas te raak.

• Verseker hulle dat dit oukei is om nie die eerste keer reg te wees nie en dat hulle weer kan probeer. Op die manier word die kind subtiel gelei om anders of logies te dink om by die antwoord uit te kom.

• Moenie die kind verkleineer nie – dit is ’n ouer en opvoeder se taak om ’n kind te koester en hulle selfvertroue te versterk – nie om die kind af te breek nie.

• Verduidelik hoekom wiskunde ’n belangrike lewensvaardigheid is en dat ’n mens dit elke dag oral en op verskillende vlakke gebruik. Dink maar net aan wanneer ’n mens jou maandelikse begroting moet uitwerk, of wanneer jy ’n beroep beoefen en daar van jou verwag word om wiskundige beginsels toe te pas op onder meer grafieke en diagramme om ’n verslag te skryf.

• Let op jou kind se leesvaardigheid, want leesvaardigheid en wiskunde gaan saam. Om met selfvertroue en met begrip te kan lees, dra by tot jou kind se getalbegrip. Die kind moet die wiskundevraag met begrip kan lees om te weet watter stappe om te volg om by die antwoord uit te kom.

Hoe kan ouers en onderwysers help?

• Dit is belangrik dat die ouers en onderwyser saamwerk en dat die ouers op hoogte gehou word met waaraan kinders werk sodat hulle dit by die huis kan oefen.

• Indien die kind geen belangstelling in wiskunde het nie, kan ouers en die onderwyser ook saamwerk om die kind se nuuskierigheid en selfvertroue te help ontwikkel.

• Maak wiskunde pret en realisties. Dink aan ander innoverende maniere om die vak aan te bied.

• Dit is belangrik om vas te stel waar die gaping in die kind se kennis van wiskunde lê en dan ’n stappie terug te neem om op ’n konkrete vlak die kind te help om dit op daardie vlak te bemeester. Op die manier sal hy dan die volgende begrip kan verstaan en uiteindelik sy wiskunde op peil kry.

You need to be Logged In to leave a comment.