Ek en ’n vriend het by ’n groep motorfietsryers aangesluit vir ’n ontbytrit.

Die groepe vertrek ge­woonlik om 07:00 vanaf die vulstasie by College Square oorkant Mimosa Mall, en enigeen is welkom om saam te ry.

Diegene wat al in groepritte meegedoen het, sal weet – jy val nie sommer in en ry saam nie.

’n Sekere protokol moet gevolg word: die Road Captain, soos die voorste ryer bekendstaan, gee die roete vir die groep deur.

Hy het dit gewoonlik vooraf gery om versperrings of die alombekende erosie-gate te eien.

Só vertrek ons al brullende agter die padkaptein aan. Hy, of minder gereeld sy, gee die pas vir die groep aan. Niemand durf verby die Road Captain ry nie. Jy wil nie die ritme en formasie van die massa-rit verbreek nie.

Op elke roete is daar gewoonlik ’n paar uitdagende s-draaie. Hier wys bedrewe ryers hul motorfietse se klouvermoë.

Jare gelede, toe ek begin ry het, was die draaie vir my vreesaanjaend. Die gevoel dat jy enige oomblik met die teer gaan kennis maak, laat jou hartspiere benoud saamtrek. Maar dan onthou ek my leermeester se woorde: “Kyk déúr die draai. Moenie ín die draai kyk nie. Hou jou oë op die ryer voor jou.”

Dit is waardevolle woorde.

Ek kyk op en sien die padkaptein ver voor my uitry. My motorfiets gly behendig deur die draaie, alle vrees is weg, my hart bokspring van lekkerte.

In padwedlope werk dit so: daar is ’n drawwer wat voor hardloop en die pas aangee. Soms met ’n vlaggie wat bokant hom uit wapper.

Hierdie ervare atleet verseker óf dat jy die wedloop in ’n sekere tyd voltooi, óf die minder ervare deelnemers se voltooiing van ’n resies.

Dis nou as jy naby die pasaangeër bly.

Dit herinner my aan die vers in Hebreërs wat sê: Laat ons die wedloop met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.

Ek moet eerlik wees, omstandighede in Bloemfontein en die res van Suid-Afrika stem my gemoed bekommerd.

Ek raak paniekerig oor die spoelgate wat ons paaie wegvreet. En ek wonder hoe lank ons nog elektrisiteit gaan hê.

Die rommelstatus-berigte maak my weemoedig. Die toekoms lyk duister. Maar dan onthou ek: “Moenie op die draai fokus nie.”

Doelbewus kyk ek weg van die uitdagings. My oë soek na die Padkaptein. Ek gewaar Hom – mý Leidsman – óns Redder.

Hy sal ons altyd op die regte pad lei. My asemhaling word rustig, my hartklop verlaag. Daar ís steeds hoop vir die toekoms.

Ek laat jou met die vertroostende woorde uit Jesaja 42:16, waar die Here vir sy profeet sê: “Maar wat my volk betref sal Ek die blindes lei op paaie wat hulle nie ken nie. Ek sal die donker in hulle lig maak en klipperige plekke maak Ek gelyk. Dit sal Ek alles doen. Ek sal hulle nie in die steek laat nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.