Die foto van Danie Brink van ’n kameelperd in die Franklin-natuurreservaat op Naval Hill is die algehele wenner in die Vriende van Franklin (FoF) se jaarlikse fotografiekompetisie.
Brink se foto is ook die wenner in afdeling 1, wat die wild van Naval Hill moes uitbeeld.
Die kompetisie is einde verlede jaar bekend gestel en mense is genooi om foto’s op Naval Hill te neem. Dit het ook as geldinsamelingsprojek vir die vereniging gedien.
Vanjaar is 65 foto’s vir die kompetisie ingeskryf, wat deur bestuurslede van die Vriende van Franklin beoordeel is.
Andri Grobbelaar, voorsitter, sê R2 400 is danksy die kompetisie ingesamel.
“Ons gaan dit gebruik om veral in die wintermaande bykomende voeding vir die diere te koop,” sê sy.
“Dit was ons tweede fotografiekompetisie en ons mik daarna om dit ’n jaarlikse instelling te maak. Die doel is om mense wat ’n passie vir die natuur het aan te moedig om die Franklin-natuurreservaat te besoek. Verder wil ons ook geld insamel om bykomend voeding te koop wanneer dit nodig is.”
Die prysuitdeling vind Saterdag (14/05) by die Zuri-graffitimuur op Reizisplein in Torbetstraat plaas.