Janie du Plessis neem die leisels oor in die nuwe seisoen van kykNET se In die sop.
Janie du Plessis is die nuwe aanbieder van kykNET se In die sop. FOTO: kykNET

kykNET se gewilde werklikheidsreeks In die sop trek ’n ander baadjie met ’n splinternuwe aanbieder aan vir die vierde seisoen van die reeks. Die fokus verskuif van restaurante na gastehuise in en om Kaapstad, in Gauteng en langs die N1-roete.

Raadop met stadige besprekings of keelvol vir klaende gaste? Is jou gastehuis dalk in die sop?

Soms is dit net ’n vars kennersoog wat nodig is om jou gastehuis weer winsgewend te maak en te sorg dat gasvryheid weer sy regmatige plek saam met jou gelukkig gaste aan die vol hooftafel inneem. Hierdie is dalk net die reddingsboei wat jy nodig het.

Aan die stuur van sake is Janie du Plessis, daardie aanvallige rabbedoe wat in die 80’s as aanbieder van gewilde joernaalprogramme vir jong mense soos Teletien en Graffiti op al wat ’n tydskrifvoorblad gepryk het. Sy was destyds ook saam met Arnold Vosloo te sien in die trefferrolprente Boetie gaan border toe (1984) en Boetie op manoeuvres (1985).

Oor die afgelope 40 jaar het sy een van die bekendste glanspersoonlikhede op TV geword. Maar dis nie net deftige uitrustings, ligte en kameras vir Janie nie. Sy’t ’n goeie sakekop op haar skouers, én sy het deeglike eerstehandse kennis van gastehuise. Die afgelope tien jaar het sy die land deurkruis met haar liefdadigheidswerk, wat haar tot drie keer ’n week in gastehuise laat beland het.

’n Bekende lid van die In die sop-span, Misi Overturf, vorm saam met Griki Lubbe (’n binnenshuise ontwerper in Kaapstad) en Willus Bosch (’n ervare opknapper, interieurkenner en eienaar van Maison Cape Town) die gedugte taakspan. Dié drie gaan beurte maak met hulp aan die gastehuise.

Waarvoor wag jy? Daar’s mense wat wil kom kuier.

Skryf só in:

Besoek www.kyknet.tv vir die inskryfvorm of stuur ’n epos na inskryf@indiesop.tv. Inskrywings sluit 31 Julie en die reeks sal vroeg in 2026 uitgesaai word. 

You need to be Logged In to leave a comment.