Sommige gr. 1’s dink net aan speel en sport, maar daar is darem baie wat grootoog sê hulle sien daarna uit om nuwe goed te leer.
Leerlinge het Woensdag aangemeld vir hul eerste skooldag van 2024, en in Bloemfontein se strate was dit duidelik dat dinge weer terug na normaal is met horde ouers wat hul kinders by die skool gaan aflaai het.
Soos altyd was dit ’n groot dag vir gr. 1’s.
Netjies uitgevat in splinternuwe klere het tien gr. 1’s vir hul eerste dag by die CVO Skool Dankbaar in Bainsvlei aangemeld.
By die Laer Meisieskool Oranje is daar twee tweelinge in gr. 1. Die bekkige Paula en Lisa Roux vertel vir almal wat wil hoor hoe opgewonde hulle is om skool toe te gaan. Lisa sê sy wil ballet doen en sussie Paula sê sy hou baie van katte. Die ander twee, wat net grootoog luister, is Onalenna en Onalerona Hammond.
In die Eunice Primary School was vier niggies onder die 108 nuwe gr. 1’s in dié skool. Hulle is Quinn, Keirra en die tweeling Hannah en Emily Blair.
Die nuwe gr. 1’s van dié skool weet mooi wat hulle wil leer. Clarissa Swanepoel wil leer wat is 10 + 10; Demi van der Merwe wil meer leer oor diere, omdat sy ’n veearts wil word; Kaira Strydom sien daarna uit om te leer lees en wiskunde te doen; en Hané Steyn wil ook graag leer lees. Hul juffrou, Yvette Stone, sal moet regstaan met baie kennis vir dié ywerige leerlinge.
In die Laerskool Willem Postma, waar die hele skool se leerlinge verras is met ’n oliebol op die eerste skooldag van 2024, was daar 147 gr. 1-leerlinge.
Die tweeling Neil en Henco Church wil egter net krieket speel. Neil sê die tandemuis het R50 gebring vir sy tand wat uitgeval het.
Die nuwelinge by dié skool is met vlaggies en ’n plakkaat welkom geheet.

