Die smerige Normandielaan in Bayswater het ’n gedaanteverwisseling ondergaan toe VF Plus-raadslede, -jeugdiges en -LP’s op versoek van die inwoners ’n opruimingsprojek daar begin het.
Val de Kock, VF Plus-raadslid, sê dit was veral verblydend om te sien hoe die gemeenskap Saterdag (03/09) hand bygesit het om hul omgewing skoon te kry. ’n Hele paar gesinne, gewapen met tuintoerusting, het ook opgedaag en gehelp.
“ ’n Gemeenskap wat bereid is om tyd vrywillig op te offer is ’n gemeenskap wat saamstaan,” sê De Kock.
Verval en die algehele gebrek aan dienslewering kan slegs voor die deur van die metro se bestuur gelê word, meen sy.
“Kader-aanstellings, politieke inmenging en korrupsie het die metro op sy knieë gedwing. ’n Klimaat is geskep waar werkers die stelsel beheer – sou ’n amptenaar dissiplinêre stappe teen die werkers oorweeg, word hy deur politici aangesê om dit te laat vaar.”
Sy sê om oortydeise te vermeerder, vandaliseer werkers vragmotors wat veronderstel is om dienslewering te verbeter.
“Werknemers van die metro moet besef dat hulle vervangbaar is, dat werk skaars is en dat daar baie ander is wat graag hul werk teen ’n kleiner salaris sal doen.”
Sy sê VF Plus-raadslede sit druk op die metro om gevolgebestuur konsekwent te begin toepas; dit is tyd dat die vrot appels geïdentifiseer en uitgewerk word; aanstellings moet op grond van meriete hanteer word.
“Mangaung se enigste redding sal wees dat kiesers hul oë oopmaak en besef dat hulle tydens verkiesings in massas en vir die regte party moet gaan stem.
“Daar moet vir vooruitgang en verbetering gestem word. Moenie vir leë beloftes stem nie. Sedert 1994 het nog niks gekom van die ANC se beloftes nie; daar is net verval en verarming.”
Oor vullis en vullisverwydering sê De Kock mense moenie deel van die probleem wees deur onwettig vullis te stort nie.
“As vullisverwydering nie in jou gebied gebeur nie, praat met jou raadslid. Sluit jou aan by WhatsApp-groepe om die vullisverwyderingsprogram te kry.
“Werkloosheid in Mangaung is ’n enorme probleem en daarom is daar ’n toename in sakkrappers. Vir die meeste is die inkomste wat hulle daaruit kry hul gesin se enigste inkomste.”
Een oplossing vir huisgesinne is om alle blik- en plastiek-artikels in ’n aparte sak te gooi.
Sy sê as elke inwoner in Mangaung net sy eie erf en sy sypaadjie skoon hou, is die stryd halfpad gewonne.