Welkom by die grootse avontuur in die weste.
Die finale produksie in die Wille Woelle-Weste (WWW) Trilogie word vandeesweek in die André Huguenet-teater in Bloemfontein opgevoer, ná die reeks in Augustus met groot sukses in die stad begin het.
Die trilogie volg die avonture van Pienkhoed Marie en haar vriende deur die weste, waar hulle teen verskillende boewe veg en leer hoe om op te tree in ’n wilde en woeste wêreld.
In hierdie nuutste avontuur, daag ’n blinde samurai in die weste op en saai verwoesting waar hy gaan. Sy opdrag: kry sy meester uit die tronk uit en neem wraak teen alles en almal.
Sal Marie en haar vriend, Spikkelperd, hom kan keer? Of gaan die weste verander in ‘n woestyn vol rook en wortels?
Die produksie is geskep deur CW Laten en Nic Beukes en word vertolk deur alumni van die Universiteit van die Vrystaat se drama departement, onder andere Anke MeyerAuld, Mia Kahts en Lorenzo Dampies.
Maak seker om nie hierdie kinderproduksie mis te loop nie.
Die Wildste-Woesterste-Westererstestesteste-Storie. . . Ooit! is te sien vanaf 20 tot 22 Februarie daagliks om 11:00 in die Andre Huguenet-teater. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets.