Tyd raak min om jou in te skryf vir die Mimosa Mall Marathon wat op Saterdag 1 Maart in Bloemfontein aangebied word.
Deelnemers kan nog die week aanlyn registreer, of vandag en môre van 14:00 tot 19:00 in Mimosa Mall waar registrasies en die afhaal van deelnemers se inskryfpakkies gedoen kan word.
Die marathon is ’n provinsiale kwalifiserende wedloop vir die Comrades. Die halfmarathon vorm ook deel van die Vrystaat-kampioenskappe.
Die wedloop is ook die laaste geleentheid vir hardlopers om te kwalifiseer vir die Twee Oseane-ultramarathon en die halfmarathon wat onderskeidelik op 5 en 6 April in Kaapstad plaasvind.
Inskryfgeld is R200 vir die marathon (42 km), R150 vir die halfmarathon (21 km), R120 vir die 10 km en R80 vir die 5 km.
Deelnemers aan die marathon, halfmarathon en 10 km kan ’n tydelike lisensie teen R50 koop indien hulle nie een het nie.
Die wegspring en eindstreep is by die Running Village op Mimosa Mall se oop parkeerterrein in Melvillerylaan.
Al die atlete kom voor die wedloop hier byeen.
Deelnemers aan die 10 km en 5 km kan die oggend voor die wedloop by die Running Village inskryf.
So dit is nog een laaste geleentheid vir almal wat wonder of hulle wil deelneem.
Deelnemers aan die marathon en halfmarathon volg ’n nostalgiese roete deur die stad deur Tempe, die Universiteit van die Vrystaat en Grey-kollege.
Sien gerus die vier verskillende roetes op BloemNuus se aanlyn blad op Netwerk24 onder Streeksnuus.
Die wegspringtye vir die 42 km is 05:30, 21 km is 06:00 en die wegspring vir die 10 km en 5 km is 06:30.
Daar is medaljes vir elke atleet wat deelneem.
Gelukstrekkings vir elke kategorie word voor die wegspring gedoen.
Mimosa Mall geskenkbewyse ter waarde van R32 500 vir die wenners van die verskillende ouderdomsgroepe is op die spel.
BloemNuus is die gedrukte mediaborg vir die Mimosa Mall Marathon.
Kom ondersteun die hardlopers of kom hardloop saam.
Sien julle Saterdag by die Mimosa Mall Marathon.