Dit is ’n algemene wanopvatting dat ’n mens nie met ekstra suiwer olyfolie (“extra virgin olive oil”) mag kook nie.
Eintlik is dié soort olie besonder geskik hiervoor.
African Gold sê volgens studies wat gedoen is, is die gebruik van ekstra suiwer olyfolie een van die gesondste maniere om te kook. Dit beteken dat die inwoners van Italië, Spanje en Griekeland al honderde jare lank dié goue vloeistof op die regte manier gebruik.
Hier is ’n paar dinge om in gedagte te hou as jy hierdie soort olyfolie reg en effektief wil gebruik:
Dit het ’n hoër rookpunt as wat jy dalk dink
Mense sê ekstra suiwer olyfolie is nie geskik vir kook nie omdat dit ’n lae rookpunt het – die olie hou gou op prut en begin rook. Die term “rookpunt” verwys hier na die temperatuur waarop onwelkome smake en gevaarlike middels begin vorm.
Volgens African Gold is die rookpunt van hierdie soort olyfolie eintlik baie laag – tussen 176 °C en 210 °C – omdat die temperatuur waarop die rook vorm afhang van ’n olie se vryevetsuur-samestelling: Hoe laer die suurgehalte, hoe hoër die rookpunt. Ekstra suiwer olyfolie het ’n groot rookpuntreikwydte, eerder as ’n bepaalde waarde.
Varser ekstra suiwer olyfolie mag selfs ’n rookpunt hê hoër as 218 °C – ver bokant die temperatuur waarop ’n mens kos in ’n pan braai.
Die verskeidenheid moontlikhede verstom
Die groot voordeel van ekstra suiwer olyfolie is dat dit vir baie doeleindes gebruik kan word. Gebruik dit om mee te bak, te rooster of iets in ’n pan te braai, of gebruik dit selfs in soppe vir ’n bietjie meer romerigheid. Dit werk ook baie goed in slaaie en kan op vars brood gedrup word in plaas van botter.
Die smaak van ’n maaltyd verbeter hoe beter die olie is waarmee jy kook. Die besonderse smaak van ’n ekstra suiwer olyfolie kan ’n roerbraai of gebakte gereg se smaak verander en verbeter. As jy byvoorbeeld ligte olyfolie gebruik, is die smaak baie meer neutraal en delikaat.
Benewens die smaak en die talle gebruike, is daar bewys dat ekstra suiwer olyfolie veilig, stabiel en voedsaam is. Dit kan ook die voedingswaarde van ’n gereg bevorder.