Twee Bloemfonteinse spanne tel onder die 15 wat vanjaar aan die Sasol-sonkraguitdaging, waarvoor die roete van Johannesburg tot in Kaapstad strek, gaan deelneem.
Van die spanne is uit die buiteland.
Die voertuig van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se span Seilatsatsi is op ’n geselligheid Vrydag (19/08) by die hotelskool bekend gestel.
Prof. Herman Vermaak, dekaan van die fakulteit ingenieurswese, die bouomgewing en inligtingstegnologie, het op die geselligheid gesê die projek hou vir personeel en studente groot voordele in.
“Die projek gee studente die geleentheid om die vaardighede te ontwikkel wat hulle in die werksomgewing sal kan toepas.”
Die SUT het ook in 2018 aan die uitdaging deelgeneem en het toe die prys vir die beste gemeenskapsbetrokkenheid ontvang.
“Die projek gee die studente die geleentheid om eerstehandse ondervinding van probleemoplossing op te doen. As die voertuig tussen Colesberg en Middelburg gaan staan, moet die span dadelik ’n plan maak.”
Span Seilatsatsi se voertuig heet Ntsu, wat as “arend” vertaal kan word.
Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se voertuig is Donderdag (18/08) op die ou Brandkopbaan by Pellissier deur sy passies laat gaan.
Monica van der Walt, ’n meestergraadstudent in fisika aan die UV, is een van die drie bestuurders van die UV se voertuig in die Sasol-sonkraguitdaging, van 9 tot 16 September oor sowat 1 800 km.
Die UV se voertuig word die Lengau genoem.
Dr. Hendrik van Heerden, die UV se spanleier, sê hulle het sedert Oktober hard gewerk om die ontwerp van die voertuig te verfyn.
Die UV wou in 2020 die eerste keer aan die uitdaging deelneem, maar Covid-19 het toe ’n stokkie daarvoor gesteek.
“Die hoogste spoed wat ons al gehaal het, is 60 km/h. Ons beplan egter om ’n gemiddelde spoed van tussen 40 km/h en 45 km/h op die roete te handhaaf,” sê hy.
“Ons doelwit is om die hele afstand af te lê,” sê Van Heerden.
Die tien sonkragvoertuie gaan van 3 tot 7 September aan streng keuring by Delmas onderwerp word om te bepaal of hulle aan al die vereistes voldoen om aan die uitdaging deel te neem.
Die voertuie sal daarna op 9 September uit Johannesburg wegspring en op 10 September in Bloemfontein oornag op pad na Kaapstad, waar die uitdaging op 16 September ten einde behoort te loop.
Onder die 15 spanne wat reeds hul deelname aan die uitdaging bevestig het, is daar ook die internasionale deelnemers van België en die Nederland.