Laatjaarvoornemens dalk nie onmoonlik nie

Nuwejaarsvoornemens is vir beginners.


Nuwejaarsvoornemens is vir beginners.

As jy regtig wil ernstig raak oor skynbaar lewensveranderende besluite wat dalk te ligtelik geneem word, maak liewer hier teen Augustus se kant só.

Die lys hoef nie af te steek by die soort wat tradisioneel aan die einde van Desember of in Januarie gemaak word nie. Dit kan net so lywig en lank wees.

Dit kan net soveel kantnotas hê, en daar kan boonop ’n paar planne met gekrabbelde pyltjies en sterretjies daarby wees as moontlike gebeurlikheid-opsies.

Sommige van die inskrywings vir dié tyd van die jaar se lys kan miskien ooreenstem met dit wat elke jaar met die intrapslag opnuut nagejaag word.

Die verskil is hoofsaaklik dat dit nou sal saamval met die heilige vrees vir, en beklemmende sekerheid van, tyd wat vir ons almal – sonder uitsondering, gunstelinge of genade – te vinnig verbyglip.

’n Ganse jaar strek nie meer voor ons uit nie. Ook nie eens meer ’n halfjaar nie, want ons almal weet die laaste drie maande van die jaar word só deur ’n klomp dinge ingesluk dat dit byna tel as net een.

Teen die einde van Julie kry ek ’n e-pos van ’n finansiële diensteverskaffer wat my aanmoedig om my drome in die tweede helfte van die jaar na te jaag. Natuurlik is die noodsaaklike voorwaarde om sukses hiermee te behaal, só lui dié boodskap, dat ek ’n bietjie skuld maak. Nee dankie vir die skuld, was my eerste reaksie, en daarná: En wanneer dink julle miskien moet ek tyd kry vir iets op hierdie voorbeeldlysie van julle?

Die nuutgevonde dringendheid oor dinge wat jy nog sou kon doen, laat ’n mens skoon lighoofdig. Almal voel teen dié tyd buitendien al effens uitasem.

Om die druk nog ’n bietjie te laat oplaai, loop daar met elke laatjaarvoorneme ook ’n voorwaarde. Drink meer water; genoeg én gereeld genoeg dat jy gekondisioneer is teen die tyd dat die somer en die hitte opdaag. Kyk minder TV; moet dan nie net leegkop ontspan nie, lees! Pak die motorhuis reg; ten minste die helfte van alles daarin moet waai.

Daar is ook die voornemens wat uniek met hierdie tyd van die jaar saamval. Almal van hulle, sonder uitsondering, met ’n sware vrag skuldgevoel gelaai.

Vanjaar is die jaar dat ek almal se Kersgeskenke teen Oktober met gedagte uitsoek, koop, toedraai en wegsteek, besluit jy dalk opnuut. Sommer ’n paar ekstra vir generiese gelukwensing en uitdeel ook. Vir niemand gaan jy skouers optrek nie. Niemand word weer afgeskeep of ingeloop nie.

As ek nou begin reg eet, gaan haal jy die ou bobbejaan agter die berg, kan ek in Desember hierdie swembroek dra. (Ja, tel jy weer versigtig op jou vingers af: September, Oktober, November. Drie maande is mos darem genoeg tyd om ’n verskil te sien? Maar dan moet jy nóú begin.)

Jy klik ’n laaste paar keer om die aanlyn kopie af te handel, sodat die buitensporige bedrag wat jy sopas uitgegee het jou kan aanspoor.

Let ’n bietjie op na die laatjaarvoornemens wat jy maak – ook na dié, soms heel subtiel, wat jy by ander hoor.

“Ek sê jou, hou my dop. Ek gaan dit defnitief doen. Het ek jou al vertel hoe ek wil maak? Ek wag net. Die dag dat hierdie Augustuswind ophou waai…”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.