Een van die grootste sportbyeenkomste in die land sal herleef wanneer die Hoërskool Fichardtpark dié geleentheid die 21ste keer aanbied.

Weens die Covid-19-pandemie kon dit nie verlede jaar plaasvind nie.

Skole van oor die land heen sal meeding, en die gemeenskap kan na twee dae van gehalte-sport uitsien.

Tenniswedstryde vind Vrydag (04/03) plaas, asook skaak-, skiet- en gholfkompetisies.

Saterdag (05/03) pak spanne mekaar in die wintersportsoorte. Plaaslike netbalspanne sal teen spanne van die Oos- en Noord-Vrystaat en die Noord-Kaap meeding.

Verskeie rugbywedstryde sal ook deur die loop van die dag op Fichardtpark en die Hoër Tegniese Skool Louis Botha se sportterrein plaasvind. Die hoofwedstryd vind op Fichardtpark se A-rugbyveld plaas, met Fichardtpark en Marlow se o.19A-span wat mekaar om 16:20 pak.

Dit is die eerste keer dat hokkiewedstryde op Fichardtpark se nuwe sintetiese hokkieveld (astro) plaasvind. Fichardtpark se eerste seunshokkiespan speel om 11:20 teen die Hoërskool Noord-Kaap en om 13:40 teen Welkom-Gimnasium. Die eerste meisieshokkiespan speel om 08:00 teen Kimberley Girls High en om 12:10 teen die Hoërskool Noord-Kaap.

Volgens Herman van der Merwe, skoolhoof, sien die skool se personeel en leerlinge baie uit.

“Groot opgewondenheid heers onder die Bloemfontein-gemeenskap,” sê hy.

  • “Toeskouers is uitgehonger vir sportdeelname, en spelers sien uit om weer mee te ding.” Die volledige bepalings vir al die wedstryde kan op bl. 6 besigtig word.

You need to be Logged In to leave a comment.