Landsdiens gee hoogste eer

Met die Landsdiens se nasionale bestuurs­vergadering wat op Vrydag 1 Maart in Bloemfontein gehou is, is dié beweging se hoogste eerbewys aan die voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) oorhandig.


Met die Landsdiens se nasionale bestuurs­vergadering wat op Vrydag 1 Maart in Bloemfontein gehou is, is dié beweging se hoogste eerbewys aan die voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) oorhandig.

Chris Klopper was byna 40 jaar lank ’n belangrike betrokkene in Suid-Afrikaanse onderwysgeledere.

Tonie Botha, voorsitter van die nasionale Landsdiens­beweging, sê die besluit is geneem om Klopper te vereer vir die uitsonderlike diens en ondersteuning wat hy aan sy medemens en die onderwys­gemeenskap gelewer het.

Botha sê dit is gepas dat Klopper dié hoogste eerbewys, die Facta non verba-oorkonde, in die Landsdiens se 110de bestaansjaar kry.

Oor die ontvangs hiervan het Klopper gesê ’n mens werk nooit vir erkenning nie.

“Ek hoop net altyd dat ek ’n positiewe bydrae kan lewer. Dit is iets wat ek nooit verwag het nie.”

Hy sê hy het heel per ongeluk ’n lid van die Landsdiens geword.

“ ’n Onderwyser, Toy White van die Laerskool Hercules in Pretoria, het my jare gelede een dag gevra wat ek ná skool doen. Soos dit maar was, het ek nie iets gehad nie, en ek gaan toe saam met hom Landsdiens toe.

“Dit was die begin van ’n mooi pad.”

Botha sê daar wag nog lekker gebeure om die organisasie se 110de bestaansjaar te vier.

’n Jeugberaad word van 21 tot 24 Maart in KwaZulu-Natal aangebied, en ’n volwasse beraad word vir die langnaweek in Augustus beplan.

“Ons gaan vanjaar drie nasionale kampe aanbied.”

Botha sê die Landsdiens staan op vier belangrike pilare: God, die natuur, die medemens en arbeid.

“Die organisasie is multikultureel, en kampe word in Afrikaans en Engels aangebied. Ons glo ons het ’n verantwoordelikheid teenoor die Here om die natuur te bewaar. Dit is waarom ons baie doen om herwinning te bevorder.”

Botha sê die organisasie bestaan uit 155 klubs oor die land heen, met 12 000 lede.

“Ons beleef nou ’n mooi groeifase waarin ons nuwe lede bykry.”

You need to be Logged In to leave a comment.