Landsdiens oorgehaal

Die Landsdiens vier in 2024 sy 110de bestaansjaar en die plaaslike groep hoërskoolleerlinge die Kwaggas is reeds kliphard aan die werk om dié jaar spesiaal te maak.


Die Landsdiens vier in 2024 sy 110de bestaansjaar en die plaaslike groep hoërskoolleerlinge die Kwaggas is reeds kliphard aan die werk om dié jaar spesiaal te maak.

Landsdiens is in 1914 gestig en het ontwikkel van ’n landbou-organisasie vir die jeug na ’n jeugbeweging waardeur jongmense ’n liefde vir God, vir hul medemens, die natuur en werk uitleef.

Lize Fourie, leier van die Kwaggas, verduidelik dié groep van sowat 60 lede in Bloemfontein betrek hoërskoolleerlinge en studente in die stad.

Die Kwaggas het die jaar met ’n opwindende “Fear Factor”-kamp begin wat van Vrydag 12 Januarie tot die Sondag geduur het. Die doel hiervan was dat elkeen hul vrese vir 2024 vierkantig in die oë kon kyk en hulle vir die jaar wat kom, voorberei.

Met die hoofbestuursvergadering wat die eerste keer in baie jare in Maart in Bloemfontein aangebied word, het die Kwaggas Vrydag kliphard gewerk om solank geskenke vir die hoofbestuurslede te maak.

Liné Fourie, ’n gr. 9-leerling van die Hoërskool Jim Fouché, verduidelik dat hulle saadbomme gemaak het.

Saadjies van blomme of kruie word in ’n klein bolletjie van klei en potgrond gerol.

Die balletjies word dan gedroog en geplaas in houertjies wat gemaak word van gebruikte koeldrankbottels wat deurgesny is.

Die Kwaggas het die onderste helftes van die koeldrankbottels kleurvol geverf en al die werk gedoen om sowat 90 saadballetjies te maak en dit hierin te sit om die geskenke te voltooi.

Die saadballetjies kan dan later geplant word, en die ontvanger kan die oes wat daaruit groei, geniet.

Lize nooi Bloemfontein se jongmense wat by die Landsdiens betrokke wil raak, om haar by 082-378-4398 te bel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.