Langasem wys haar hakskene

’n Bloemfonteinse senior atleet, Lynette Fischer, het onlangs met ’n bronsmedalje teruggekeer van die triathlon-wêreldkampioenskap wat in Torremolinos in Spanje aangebied is.


’n Bloemfonteinse senior atleet, Lynette Fischer, het onlangs met ’n bronsmedalje teruggekeer van die triathlon-wêreldkampioenskap wat in Torremolinos in Spanje aangebied is.

Sy het derde gekom in die wedloop vir vroue 65 to 69 jaar, op die byeenkoms van 17 tot 20 Oktober

Die Suid-Afrikaanse span van 64 atlete het aan die Grand finale-byeenkoms deelgeneem en was onder die 91 lande, wat daar verteenwoordig is. Daar was meer as 5 500 atlete wat hier kragte gemeet het.

Fischer en Alfons van der Merwe was die enigste Bloemfonteiners in die groep.

“Die kompetisie was taai met 42 vroue in my ouderdom wat almal goed was,” vertel Fischer.

“Dit het uiteindelik daarop neergekom wie die vinnigste kon hardloop ná die swem en die fietsry.”

Fischer sê die spangees was so goed en die ondersteuning van spanmaats was wonderlik.

Sy vertel Amerika en Groot Brittanje het die kompetisie oorheers met meer as 800 atlete van Amerika alleen.

Suid-Afrika het slegs drie medaljes by die byeenkoms bekom.

“Ek sal graag weer wil gaan deelneem, maar dié keer met ’n Triathlon TT-fiets. Mens kan mos maar droom.”

Voor die byeenkoms moes Fischer ’n keuse maak tussen deelname in Port Said, Egipte, by die biathle- en triathle-wêreldkampioenskappe, of die triathlon-wêreldkampioenskappe in Spanje.

“Die afgelope drie jaar het ek die biathle- asook triathle-wêreldkampioenskappe gewen en het ’n nuwe uitdaging gesoek. Ek het die die groot uitdaging baie geniet,” vertel sy.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.