Die bestuurspan van die Kwaggas is van links, voor: Gert Bratke (Hoërskool Jim Fouché, gr. 11) en Liné Fourie (JF, gr. 9)

Landsdiens gaan alles oor dade.

Die Kwaggas, die Bloemfonteinse hoërskoolgroep van die Landsdiens, het op 3 Maart hard gewerk aan sy herwinningsprojek.

Die groeplede het hope plastiekbottels platgemaak en verpak sodat dit verkoop kan word. Die groep het ook wit melkbottels bymekaargemaak wat die Hoërskool Jim Fouché insamel om te verkoop vir sy teaterfonds.

Lize Fourie, stigter en klubleier, sê sy was in haar skooldae ’n ywerige lid van die Landsdiens.

“Die hoërskoolklub het in ’n stadium doodgeloop, terwyl die laerskoolgroep voortgegaan het.”

Toe haar dogter, Liné, verlede jaar hoërskool toe gaan, wou Liné baie graag aanhou met Landsdiens.

“Ek het besluit om ’n hoërskoolgroep te stig, en ons het vanjaar by die 50 lede,” vertel Lize.

Die leerlinge, meestal leerlinge aan die Hoërskool Jim Fouché (JF), maar ook van ander skole oor die hele stad heen, is by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke.

“Om te kwalifiseer vir die hoogste eerbewys wat in die Landsdiens verower kan word – die Springbok – moet lede elk ’n projek hê,” verduidelik Lize.

Sy sê dit sluit aan by die Landsdiens se visie om leerlinge by gemeenskapswerk te betrek.

Sadé Botes, ’n gr. 10-leerling aan JF, se projek is om geld in te samel en te gaan uithelp by die diereskuiling New Beginnings.

Sy dien in die bestuur van die Kwaggas.

Nog ’n bestuurslid, Schalk Botes (gr. 10) van die Hoërskool Fichardtpark, se projek is El Pizo House of Hope. Hy bederf die kinders met geskenkies op hul verjaardae.

Vir Leané Bronman, ’n gr. 10-leerling aan JF wat die klubvoorsitter is, is kampe die heel lekkerste van Landsdiens.

Lize sê met hul herwinningsprojek het die Kwaggas reeds drie groot bale plastiek bymekaargemaak.

“Ons gaan in die vakansie voort met dié projek,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.