Leë huis in Jock Meiringstraat word kantore vir polisie as aansoek slaag

’n Aansoek is ingedien met die oog daarop om die eiendom waarop die leë huis in Parkwes staan te hersoneer vir kantore vir die polisie.


’n Aansoek is by die Mangaung-metro ingedien met die oog daarop om die eiendom waarop die leë huis by Jock Meiringstraat 1 in Parkwes staan te hersoneer vir kantore vir die polisie.

Die minister van openbare werke, Sihle Zikalala, het op 31 Maart geantwoord op vrae deur George Michalakis van die DA in die Vrystaat oor die huis en wat daarmee beoog word. Michalakis het die vrae op 1 Maart aan die minister se kantoor gestuur.

Zikalala sê in antwoord die huis in Jock Meiringstraat gaan in kantore vir die polisie omskep word, en die versoek om die eiendom in ’n kommersiële eiendom te omskep is by die metro ingedien.

Tjaart van der Walt, DA-raadslid van wyk 23, waarin die huis geleë is, sê die huis skep al lank probleme omdat dit leeg staan. Dit gebeur dikwels dat mense onwettig daar gaan bly en dan verwyder moet word.

Van der Walt sê die huis het aan die kapelaan van die Parkweg-polisiekantoor behoort. Intussen het die huis in onbruik geraak en dit staan al jare lank leeg. Hy sê ná dosyne e-posse, vergaderings, oproepe en ’n petisie, het die Parkweg-polisiekantoor verlede jaar bevestig dat die huis vir administratiewe doeleindes gebruik gaan word.

Zikalala het bevestig dat die polisie verantwoordelik is vir die daaglikse instandhouding van die huis.

Die polisie het ’n kontrak met ’n private veiligheidsonderneming om die eiendom te beveilig, maar die kontrak het tot ’n einde gekom en ’n nuwe dienskontrak moet opgestel word.

Van der Walt sê hy onderneem om dit met die polisie op te neem dat die oorgroeide werf skoongemaak word terwyl gewag word op die goedkeuring vir die hersonering.

You need to be Logged In to leave a comment.