Leemte ná joernalis sterf

Alet van der Walt (54), senior joernalis van Volksblad en Netwerk24, is ná ’n kort stryd teen kanker in haar huis in Hennenman oorlede.


Alet van der Walt (54), senior joernalis van Volksblad en Netwerk24, is ná ’n kort stryd teen kanker in haar huis in Hennenman oorlede.

Van der Walt was ’n spesialis­joernalis in landelike kwessies en plaasaanvalle en het die afgelope dekade oor tientalle plaasmoorde verslag gedoen.

Sy is in November met ’n Vodacom-prys in die streek bekroon vir haar verslaggewing oor die Jagersfontein-mynramp.

Beppie van der Merwe, haar suster, sê Van der Walt is op Maandag 26 Februarie in haar huis oorlede.

Haar ma, ook Alet, seun, Walt, en vriende was by haar toe sy om 13:06 gesterf het. Walt het van Maasstroom in Limpopo gery om betyds te wees om van sy ma afskeid te neem.

Hoffmann, haar broer, het van Kanada gekom om ’n ruk by haar te wees nadat sy siek geword het.

“Sy het aan limfoomkanker gely, wat op 25 Januarie by haar gediagnoseer is, maar dit is longontsteking wat haar dood veroorsaak het. Dit het skielik oor die naweek vererger.”

Van der Merwe sê haar suster het altyd ’n sakkie vol kruideniersware gemaak en dit aan ’n hawelose gaan gee.

“Sy het altyd geveg vir mense wat swaarkry.

“En sy het natuurlik haar diere baie liefge­had. Haar geliefde hond, Pippa, ’n staffie, het heeltyd op haar bed gelê en haar hand gelek tot met haar dood.”

Molly Green, ’n oudkollega, sê sy was bevoorreg om van haar vriendin afskeid te kon neem.

“Sy het die vorige aand nog saam met vriende en familie in haar sitkamer gesels, maar omstreeks 02:30 in ’n koma ingegaan. Sy was aan suurstof gekoppel, maar baie rustig.”

Green sê sy onthou Van der Walt as ’n baie opregte en sterk mens.

“Sy gaan baie gemis word.”

Henriëtte Loubser, hoof­redakteur van Netwerk24, sê ook Van der Walt gaan baie gemis word.

“Te gou, te jonk – ons hart is stukkend oor ons kollega en die mens wat ons verloor het.

“Alet was ’n onverskrokke joernalis, inge­grawe in haar gemeenskap en dapper tot die einde. Selfs terwyl sy reeds besig was om te verswak, was sy doenig met boodskappe en wenke in ons nuusgroepe. Ons sal die mooi herinneringe aan haar koester. Ons dra ons medelye oor aan haar familie en vriende.”

Dirk Kok, redakteur van Volksblad, sê as lid van Netwerk24 se nuusspan in die sentrale streek was Van der Walt ook lid van die Volksblad-span.

“Sy was ’n raakvatter waar dit by nuus en die joernalistiek kom en een van die beste en produktiefste joernaliste met wie ek saamge­werk het. Dit was ook ’n voorreg om haar as mens te kon ken. Sy was ’n wonderlike mens. By Volksblad is ons hart seer oor Alet. Ons sal haar nooit vergeet nie.”

Kaydene Davids, ’n kollega in die sentrale streek, sê in al die jare dat sy die voorreg gehad het om met Van der Walt saam te werk, was dit net ’n aangename ervaring.

“Sy is een van die kollegas wat ’n spesiale plek in my hart besit. So stil, nederig, vriende­lik en altyd behulpsaam. Haar plek is leeg, maar haar nagedagtenis leef voort in my hart.”

Alet Joubert, assistent­redakteur van Netwerk24 in Johannesburg, sê Van der Walt het die Goudveld soos die palm van haar hand geken en stories losgewikkel soos wat niemand haar kon nadoen nie.

“Sy was een van die eerste verslaggewers wat die video-aspek van digitale verslaggewing begryp het en gesorg het vir sterk video’s by haar berigte. Met haar verslaggewing oor by­voorbeeld die ramp in Jagersfontein, waarvoor sy ’n Vodacom-prys losgeslaan het, het sy net weer bewys watter ongelooflike sin vir nuus sy het en hoe sy bereid was om die ekstra myl te stap om mense se stories te vertel.

“My naamgenoot is nou nie meer daar nie, maar haar werk leef voort.”

  • Van der Walt word Vrydag om 11:00 vanuit die NG kerk Hennenman, hoek van Kerk- en Fourie-straat, begrawe.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.