Leerlinge van die Laerskool Dr. C.F. Visser het Vrydag (16/09) meer geleer oor gehoorgestremdheid. Hier wys van links, voor is Juandre Geldenhuys (gr. 7) – doofheid, Anrike Kannemeyer (gr. 6) – bewustheid en Steven Waldeck (gr. 7) – liefde

Leerlinge van die Laerskool Wilgehof sê ‘liefde’ in Gebaretaal.Foto: Verskaf

Verskillende projekte word die afgelope paar weke reeds aangebied om mense bewus te maak van die leefwêreld van gehoorgestremdes.

Personeel en studente van die departement van Dowe Studies en Suid-Afrikaanse Gebaretaal aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) het op 26 Augustus begin met ’n bewustheidsprojek en eindig dit op 21 Oktober met ’n projek in Philippolis.

Renata van Heerden, ’n student wat gehoorgestremd is en haar magistergraad-studies aan die UV doen, het met die kinders gesels oor hoe mense met gehoorgestremdheid dinge beleef. Sy het in Gebaretaal gesels en Annemarie le Roux, ’n dosent in Suid-Afrikaanse Gebaretaal aan die UV, het alles wat sy sê vir die kinders vertaal in Afrikaans.

Daarna het die kinders ’n oulike liedjie geleer wat vir hulle letters van die alfabet in Gebaretaal leer.

Die Bartimea-skool vir Dowes en Blindes het die UV op 1 September besoek.

Die UV het reeds van 2016, toe dié skool die gevaar geloop het om te sluit, ’n baie sterk verhouding met die skool begin opgebou danksy die groep Signals wat aan studente in Gebarestudies die geleentheid bied om dit wat hulle in die klas leer, in die praktyk toe te pas.

Le Roux sê hulle het ook uitgereik en die skool gehelp om die terrein skoon te maak en die speelterrein geverf.

Die UV het ook goeie verhoudings met die Thiboloha-Skool vir Dowe en Blinde leerlinge in Phuthaditjhaba.

Ander skole wat tydens vanjaar se bewustheidsprojek besoek is, is die hoër- en laerskool Martie du Plessis en die Laerskool Wilgehof.

Die departement is ook vanjaar deel van die Litfees op die Vrystaat Kunstefees met ’n gesprek oor Gebaretaal nadat dié taal in Mei vanjaar as Suid-Afrika se twaalfde amptelike taal bevestig is.

’n Paneel van die departement sal gesels oor die ontwikkeling van Suid-Afrikaane Gebaretaal en hoe mense meer ingelig kan wees om dié taal te gebruik om met Suide-Afrikaners wat gehoorgestremd is, te kommunikeer.

Die gesprek vind op 5 Oktober om 12:00 in die Netwerk24-feeskafee aangebied en bywoning is gratis.

You need to be Logged In to leave a comment.