Gaste wat die spesiale BBP-kaartjies van R1 000 vir De Oude Kraal se gourmet-saal koop, kan uitsien na heerlike happies wat saam met uitgesoekte wyn bedien word.
Die fees word Saterdag 10 Junie aangebied.
Marie Lombard, mede-eienaar en sjef van De Oude Kraal, sê sy is so dankbaar vir die hulp van sjef Patso Nikolov en Reinette Enslin wat haar help met die keurige gourmet-happies.
Hulle het een van elk van die 23 wynlandgoedere se wyne gekies en dan ’n smaakkombinasie gekies wat dié wyn sal komplementeer. Daar sal dus 23 disse met bypassende wyn wees waaraan besoekers met dié kaartjies kan proe.
Vir gaste wat dié kaartjies koop sowel as mense wat die gewone kaartjies teen R595 koop, wag daar soos gewoonlik ’n feesmaal van wildskosgeregte, topklas-wyn, bykosse en aktiwiteite.
Vanjaar kan alle gaste uitsien na gratis meestersklasse op die fees om meer oor spesifieke wyn by die Franse sommelier Germain Lehodey te leer.
Die eerste klas is oor Methode Cap Classique van 11:00 tot 12;00; die tweede oor Chenin Blanc van 12:00 tot 13:00; dan ’n kort klas oor Cabernet Sauvignon van 13:30 tot 14:00; en die laaste klas is oor Pinotage van 14:00 tot 15:00. Die klasse sal bo in die saal wees.
Nog ’n nuutjie wat tydens die WildsKOSfees geopen gaan word, is die De Oude Padstal met allerlei lekkernye wat op De Oude Kraal gemaak word en te koop sal wees. Dit sal wildspasteie, lewerpatee, konfyt en wildsboerewors insluit.
Daar sal ook kaasborde wees wat saam met die wyn geniet kan word.
Besoekers sal vanjaar wyn by die stalletjies kan koop.
Twee wildspakette waarvan die wins na De Oude Kraal se creché – wat na werkers se kinders omsien – gaan, sal net voor 13:00 onder die kamer kom.
Kunstenaars soos Karoo, Ryk Kleinhans, Cezanne Yzell, Tango Etc., Good Company, Zak Steyn, Naledi Mohapi en Jacobus Silwer gaan vermaak verskaf.
Kaartjies vir vanjaar se fees is beskikbaar by Crazy Daisy in Fleurdal Mall, Daisy & Co by Prellerplein, Delta Express in Westdene of deur De Oude Kraal by 071-679-6596 te skakel. Kaartjies vir kinders 6 tot 12 jaar kos R150, en R250 vir kinders 13 tot 17 jaar.