Inskrywings word ingewag vir die Nasionale Museum in Bloemfontein se jaarlikse jong kunstenaar-kompetisie.
As deel van Jeugmaand bied die museum weer hierdie kompetisie aan, waarin leerlinge vanjaar se tema “Een aarde” kunstig kan uitbeeld.
Die fokus is op hoe om meer volhoubaar te lewe en meer in harmonie met die natuur te wees. Dit kan onder meer vermag word deur beter keuses te maak wanneer dit by omgewingsbewaring kom. Deelnemers aan die kompetisie kan dus byvoorbeeld in ’n kunswerk uitbeeld hoe hulle meer omgewingsvriendelik en in harmonie met die natuur leef deur die keuses wat hulle uitoefen.
Leerlinge neem in verskillende afdelings deel, met afdeling A vir leerlinge van 5 tot 9 jaar, afdeling B vir leerlinge van 10 tot 14 jaar en afdeling C vir leerlinge van 15 tot 19 jaar. Die drie beste inskrywings in elke afdeling verdien prysgeld.
Die kunswerk kan in enige medium geskep word, solank dit nie gevaarlik is nie; dit mag nie groter as 1 m x 1 m groot wees nie en mag nie meer as 30 kg weeg nie.
Inskryfvorms is beskikbaar by die Nasionale Museum by Aliwalstraat 36. Die inskrywings kan ook daar afgegee word. Die sluitingsdatum is 5 Augustus, om 15:00.