Leerlinge maak van muur by kwekery ’n foto-paradys

Twee leerlinge aan die Eunice High School het hul kreatiewe talente die vakansie laat skitter toe hulle ’n muurskildery by Urth geskep het.


Twee leerlinge aan die Eunice High School het hul kreatiewe talente die vakansie laat skitter toe hulle ’n muurskildery by Urth geskep het.

Risna Opperman, direkteur van dié kwekery en onthaalvenue, sê jonger klante en korporatiewe klante soek gereeld ’n plekkie by die sentrum waar hulle ’n mooi foto kan neem.

“Ons het al verskeie sulke ruimtes vir hierdie doel geïdentifiseer, maar ons wou graag ’n mooi kunswerk laat skep.

“Ons het vir idees op ons Facebook-blad gevra, waarna ons behoorlik oorval is met mense se kreatiewe planne.”

Een van die mense wat idees gehad het, was Esté van Aswegen van Eunice se ondersteuningsentrum. Sy het voorgestel dat van Eunice se leerlinge help om die muurkuns te skep.

Uiteindelik is Iqra Ud-din en Mosa Makhele, gr. 12-leerlinge, die geleentheid gebied om die skildery te skep.

Opperman sê hulle wou graag met die kunswerk ’n helder, opgewekte en moderne gevoel skep.

“Ons wou inheemse blomme as fokuspunt vir die kunswerk gebruik. Strelitzias is een van my gunsteling-plante.”

Die meisies het uit hul topkeuses ontwerpvoorleggings gedoen, wat Opperman en haar span goedgekeur het vir die finale kunswerk.

Iqra en Mosa het in Desember agt dae lank aan die muurskildery gewerk.

“Al was ek nie daar terwyl die twee die muurkuns voltooi het nie, het ek elke dag foto’s van die vordering gekry,” sê Opperman.

“Ek was baie beïndruk met die twee se kuns en die manier waarop hulle dit aangepak het. Hulle het nie net kreatiwiteit gewys nie, maar ook deursettingsvermoë getoon.”

Opperman sê dié kunswerk het haar nou so geïnspireer dat sy dit oorweeg om in Februarie nog ’n muurskildery te laat maak.

Skole wat vir hul leerlinge ’n geleentheid wil gee om hul kunsvaardighede in te span, kan Urth by 082-696-7876 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.