Die Dr. Böhmer-vaardigheidskool bied aan leerlinge geleenthede om aan verskillende aktiwiteite deel te neem.
Wat kultuur betref, was die skool se ritmegroep se groot optrede op 15 Augustus op die Hoërskool Sand du Plessis se revuefees, waaraan talle skole deelgeneem het.
Die dansers se optrede was onberispelik. Hul kleurryke kostuums en vriendelike gesigte het die gehoor aan die gons gehad.
Daarna het die groep op 25 Augustus aan Dr. Böhmer se jaarlikse Rivista deelgeneem, waarin 21 skole teen mekaar meegeding het. Die meisies het ’n uitstekende simbool, A++ (punt 91% en hoër), verwerf. Die beoordelaars se kommentaar was baie positief.
Die skoolkoor het ook in die afgelope jaar uitgeblink. Die koor was eerste in die eisteddfod wat op 31 Augustus by die Nobilis-skool in Virginia aangebied is.
In die solosang-afdeling het Dimpho Liefo goud verwerf en daarmee ’n borgskap gewen om aan die Talent Africa-kompetisie deel te neem.
Pholoana Makoba is ook met goud beloon, in die gedigte-afdeling.
Boonop is Makayla Bester se kunswerk met goud erken, terwyl Themba Gqashosho goud en twee keer silwer verwerf het vir drie kleursketse.
Op sportgebied kyk die skool met geesdrif vorentoe. Die skool se hokkiespelers is opgewonde oor die 2023-seisoen. Hulle het hierdie seisoen op vaardighede en blootstelling gefokus, aangesien dit baie van die leerlinge se eerste kennismaking met die sportsoort was en hokkietoerusting beperk was. Die plan is om die skool se hokkiespelers volgende jaar baie meer blootstelling aan wedstryde te gee.