Die Prestige-wiskunde-prysuitdeling is die hoogtepunt van die jaar se bedrywighede vir leerlinge wat aan wiskunde-olimpiades deelneem.
Die leerlinge wat deur die jaar hard gewerk en in olimpiades presteer het, is op 29 November op ’n geselligheid by die Hoërskool Jim Fouché beloon.
Een van die mees toeganklike olimpiades vir beginners is die Living Maths-kompetisie, wat jaarliks in November gehou word. Leerlinge in gr. R kan al daaraan deelneem, en dit bied aan hulle ’n platform om na meer gevorderde olimpiades soos die kwartaallikse Nautilus-olimpiades te vorder.
Die Nautiluskampe is provinsiale olimpiades wat vir leerlinge van gr. 3 tot gr. 12 in Bloemfontein aangebied word. Hier antwoord leerlinge oefenvraestelle voordat almal aan ’n olimpiade in graadverband deelneem.
Alle skole van die Vrystaat en die Noord-Kaap word kwartaalliks genooi om hul leerlinge hiervoor in te skryf. Die kampe dien op hul beurt as ’n leerskool vir deelname aan nasionale wiskunde-olimpiades.
Die Suid-Afrikaanse Wiskunde-uitdaging (SAMC) het drie uitdunrondes om gr. 4- tot gr. 7-leerlinge nasionaal te sif totdat tien topleerlinge in elke graad aangewys kan word.
Die ekwivalent hiervan vir die hoërskool is die Suid-Afrikaanse Wiskunde-olimpiade (Samo) wat ook uit drie uitdunrondes bestaan, sodat daar dan tien finaliste per junior en senior kategorie aangewys kan word.
Hulle kry silwermedaljes, en die beste kandidaat word met die gesogte goue medalje beloon.
In al hierdie olimpiades is leerlinge se doelwit om gekies te word vir spanne wat aan die internasionale wiskunde-olimpiade sal deelneem. Die afgelope twee jaar is die meeste internasionale wiskunde-olimpiades aanlyn voltooi, maar die kans is groot dat spanne volgende jaar weer oorsee sal reis.
Jana Rossouw, ’n gr. 10-leerling van die Hoërskool Jim Fouché, het vanjaar deelgeneem aan die Pan African Mathematics Olympiads (Pamo), waarin slegs spanne uit Afrikalande meeding. Sy was lid van ’n span van ses wat Suid-Afrika in Egipte gaan verteenwoordig het. Op dié olimpiade het sy ’n bronsmedalje verwerf.
Deelnemers van oor die land heen het aan die Indonesiese Internasionale Wiskunde-kompetisie (IIMC) onder leiding van dr. Elsie Schoombie onder die vaandel van die Junior International Mathematics Competition Organising Body for South Africa (Jimcobsa) in die Julie-vakansie by die Hoërskool Jim Fouché deelgeneem.
Hier het Jana ’n meriete-sertifikaat gekry, terwyl nog vier leerlinge van die Vrystaat en Noord-Kaap ná vier uitdunrondes vir die Suid-Afrikaanse span gekies is. Hulle is Zecheng Shi (gr. 9, die St. Andrew-skool), Kira Bauling (gr. 8, Hoërskool Paul Erasmus in Senekal) en Lineé Lubbe (gr. 7, Laerskool Fichardtpark).
Skyler Wongfatt (gr. 9, St. Patrick’s CBC in Kimberley) was deel van die gemengde internasionale meisiespan en het ook ’n meriete-eerbewys in die IIMC verwerf.
Die Prestige-wiskunde-prysuitdeling neem leerlinge se deelname en prestasies in al die wiskunde-olimpiades in ag.
Dit is vanjaar die 13de keer deur dr. Elsie Schoombie en dr. Anelize van Biljon dié geselligheid georganiseer.
Frans Koning, hoof van die departement wiskundige statistiek en aktuariële wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), gee jaarliks beurse vir studie in hierdie departement aan die pryswenners.
Rig navrae oor deelname aan olimpiades deur ’n WhatsApp na 082-926-6674 te stuur.