Meer as 50 jong tennisspelers van oor die land heen het verlede week aan Grey-kollege (primêr) se eerste groot tennistoernooi deelgeneem.
Die toernooi is oor drie dae, van Donderdag 29 Februarie tot Saterdag, op die skool se tennisbane beslis.
Agt spanne van verskeie laerskole het deelgeneem, met Grey wat deur ’n A-span en ’n B-span verteenwoordig is. Die ander skole is: die Laerskool De Hoop in Kaapstad; Fairland in Randburg; Mooirivier; Paarl Gimnasium; Universitas; en die Umhlali Preparatory School in KwaZulu-Natal.
Grey se o.13A-tennisspan het Umhlali in ’n titaniese eindronde geklop om die eerste span te word om die toernooi se wisseltrofee te ontvang – met ’n eindtelling van 4-3.
Die wenners en naaswenners het medaljes ontvang.
Nathan Herbert (nr. 1), Karlo Buitendag (nr. 3) en Wium Vosloo (nr. 5), spelers van Grey se o.13A-span, het die beste in hul onderskeie plekke presteer. Elke wenner in die eerste ses plekke het ’n kontantprys gewen.
Die ander lede van die span is Stean du Toit, Juvan van Niekerk en Nicolas du Toit.
Nathan, Grey se tenniskaptein vir 2024, het boonop die eerbewys ontvang as die speler wat die beste sportmanskap gedurende die toernooi getoon het. Die wenner van dié prys is deur al die ander spanne se spelers benoem.