’n Groep laerskoolleerlinge van Bloemfontein het op Woensdag 9 Februarie die eerste keer in hul lewe voor ’n rekenaar ingeskuif.
Dit was moontlik nadat die inligtingstegnologiemaatskappy Rectron 20 skootrekenaars, ’n drukker, projektors en ’n kragtrollie aan die Laerskool Koot Niemann op Bloemspruit geskenk het.
Die Motheo-distrik, waarin dié skool val, is die “naasbeste uit 75 distrikte in Suid-Afrika”, het DS Moloi, direkteur van onderwys in dié distrik, opgemerk toe die toerusting ontvang is.
Nadat hy die lint gesny het om toegang tot die nuwe rekenaarlokaal te gee, kon sowat 20 gr. 2-leerlinge ingaan om ’n wiskundespeletjie te speel.
Theuns Hanekom, skoolhoof, het gesê hy weet nie hoe om sy dankbaarheid uit te spreek nie.
“Dit is vir ons ’n massiewe voorreg om van hierdie projek deel te wees.”
Hy het gesê mense moenie die skool oordeel volgens wat buite die hekke gebeur nie.
“Oordeel ons vir wat hier binne gebeur. Hier probeer ons dinge op die regte manier doen en die kinders ’n geleentheid vir die toekoms gee.”
Die lokaal kan 40 leerlinge huisves.
Bernard Holtzhausen, waarnemende adjunkhoof van die skool, het gesê hy kry hoendervel as hy dink aan die geleenthede wat dié skenking vir die leerlinge bied.
“Dit maak soveel deure oop. Min van die kinders het dié soort geriewe by die huis. Selfs ’n selfoon is vir hulle ’n vreeslike ding.”
Zeegail Murray, een van die leerlinge, het hom verwonder aan die skerm en sommer gou met die speletjie vertroud geraak.
Liezl Beneke, takbestuurder van Rectron Technolab in Bloemfontein, sê dit is die eerste skool in die Vrystaat waaraan hulle toerusting skenk.
“Ons is baie opgewonde. Dit is ’n groot projek, en dit is lekker om dit vir die kinders te kan doen.”
Dit maak soveel deure oop. Min van die kinders het dié soort geriewe by die huis. – Bernard Holtzhausen