’n Oud-Bloemfonteiner wat haar hand die afgelope paar jaar aan die maak van leerprodukte waag se stalletjie sal Saterdag (04/06) op die Franse Mark wees.
Marné de Nysschen sê die idee agter haar handelsmerk, Wanderlust, het sy oorsprong in 2015 toe sy en vriende om ’n kampvuur gekuier het.
“Ek wou die gevoel van geselskap en vriendskap, waarop die produkte gegrond is, weerspieël. Ek wou produkte skep wat persoonlik is en jou metgesel op al jou reisavonture kan wees.”
Wanderlust beteken “die begeerte om te reis”.
’n Span van drie werk heeltyds om die handsakke, skoene en ander leerprodukte te vervaardig.
“As kreatiewe mens was ek nog altyd deur die leerbedryf gefassineer,” sê Marné.
Sy sê hulle skep graag bykomstighede vir troues en sien kans om ’n groot verskeidenheid leerprodukte nommerpas vir kliënte te ontwerp.
Wanderlust gaan gewoonlik na groot markte oor die land heen, en Marné beskou die Franse Mark as die ideale mark vir dié produkte.
“Ons kry baie bestellings uit Bloemfontein en sal graag wil sien wat die belangstelling in Wanderlust se produkte is.”
Marné se suster, Christa Smal, kom al die pad van die Kaap om die leerprodukte op die Franse Mark uit te stal. Sy ken die bedryf en sal besoekers meer oor hul produkreeks kan vertel.
’n Groot verskeidenheid produkte, kos en ander interessanthede sal op die mark te koop wees.
Die Franse Wintermark begin Saterdag om 08:00 by Villa Avianto in Kwaggafontein. Toegang kos R20, kinders van gr. 1 tot gr. 7 betaal R10 en kinders jonger as 6 jaar kry gratis toegang.
Rig navrae deur 083-329-4872 te skakel.