Die leeuwyfies Sameiro (links) en Sarabi op die Bagamoya-wildlandgoed. Sameiro is van kant gemaak nadat sy ’n werker aangeval het.Foto: Verskaf


Hy is baie hartseer oor sy werker wat Sondag in ’n leeu-aanval dood is, maar ook kwaad vir die Bloemfonteinse DBV wat sy tier, Krokkie, kom vat het.

Só sê Botha Barnard, eienaar van die Bagamoya-wildlandgoed naby Glen, waar Mataka Jere (43) op Sondag 23 Junie net ná 12:00 deur een van die leeus in ’n kamp aangeval is.

Barnard sê Krokkie is al 16 jaar by hulle en is destyds uit slegte omstandighede gered.

“Die veearts het my verseker dat Krokkie nie pyn het nie en ons het hom gehou. Die tier loop teen die pad en almal ken hom.”

Barnard sê natuurbewaring en die Bloemfonteinse DBV besoek Bagamoya gereeld, en hulle weet van die dier.

“Die DBV het my verlede week gebel en gesê hulle wil die tier besoek nadat hulle ’n klagte ontvang het. Ek het gesê dat ek in die Kaap is. Hulle het toe Saterdag by die landgoed aangekom met ’n interdik om toegang te verkry.”

Hy sê die DBV het die vier leeus en die tier verdoof, en die tier is Sondag vroeg deur die DBV weggeneem.

Barnard verduidelik sy werkers het verlede week aan heinings gewerk omdat hulle vandeesweek die diere na nuwe hokke sou verskuif.

“Ons maak so elke vier maande die hokke skoon. Ons maak ’n gedeelte netjies en skuif die diere daarheen sodat ons die terrein waarop die hokke was, skoon kan maak.”

Hy sê hulle weet nie waarom Jere Sondag in die leeukamp ingegaan het nie.

“Mataka het geweet ons gaan eers die diere skuif wanneer ek terug uit die Kaap is,” sê Barnard.

Kapt. Lorraine Earle, polisiewoordvoerder, sê Jere het aan erge wonde beswyk. Hy is op die toneel dood verklaar.

Janhendrik Ruytenberg, voorman op Bagamoya, het die leeuwyfie Sameiro met ’n .22-pistool geskiet toe sy Jere in die hok aanval, en sy is deur twee patrone getref.

Barnard sê ’n verteenwoordiger van die Vrystaatse departement van kleinsake­ontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea) het die leeuwyfie verdoof, waarna personeel van Bagamoya haar van kant gemaak het.

Wat betref die besluit om Krokkie die tier van die landgoed te verwyder, sê Thea Smit, waarnemende voorsitter van die Bloemfonteinse DBV, hulle het ’n klagte van die publiek gekry dat daar ’n tier is wat sukkel om te beweeg en op sy voorpote rondkruip.

Inspekteurs van die DBV het die tier by die landgoed weggeneem.

“ ’ n Spesialis sal nou ’n profiel oor die tier opstel, en ons sal dan besluit wat met hom gaan gebeur,” sê Smit.

Sy verduidelik dat die DBV ook by Sondag se gebeure ná die aanval by Bagamoya was.

“Sondag, kort nadat die tier verwyder is, het ons gehoor dat ’n werknemer deur ’n leeu verskeur is. Die inspekteurs het na die toneel teruggegaan waar hulle die liggaam van die oorledene, en die leeu wat deur twee skote gewond is, aangetref het. Die bestuur van die landgoed het onder toesig van Destea die leeu later met ’n .308-jaggeweer doodgeskiet.”

Smit maak dit duidelik dat die DBV nie die leeu van kant gemaak het nie.

Dit ná foutiewe nuusberigte wat in die media was, na aanleiding van inligting uit ’n verklaring van die polisie.

“Ons kan nie genoeg benadruk hoe wreed die aanhou van wilde diere in gevangenisskap is nie. Dit ontneem wilde diere van alles wat vir hulle natuurlik is,” sê Smit.

Barnard sê die spesialis moet bewys verskaf dat die tier pyn het, anders soek hy sy tier terug.

“Ons is almal baie hartseer oor Mataka. Hy werk al 12 jaar hier en ons mis hom baie. Dit is baie hartseer wat hier gebeur het,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.