In Bloemfontein ondersteun skole mekaar, soos hierdie week weer gesien is met ’n spesiale skenking.
Dit is met groot glimlagte dat personeel van die Lettie Fouché- Spesiale Skool Dinsdag (10/01) die skenking van skoene en skryfbehoeftes in ontvangs geneem het.
Die hoofleiers van die Laerskool Willem Postma het skryfbehoeftes, potloodsakkies en skoolskoene ingesamel en aan onderwysers by dié skool oorhandig. Die groep bestaan uit Cara van Staden, onderhoofmeisie, Manon du Toit, hoofmeisie, IR van der Merwe, onderhoofseun, en Jaco Buys, hoofseun.
Ilze van Zyl van Lettie Fouché, sê die skenking is baie welkom.
“Ons kan nie soos baie hoofstroomskole ’n behoeftelysie aan ouers gee van wat vir die skooljaar gekoop moet word nie. Juis daarom is skenkings soos hierdie vir ons baie werd.”
Sy sê die onderwysers aan dié skool het einde verlede jaar sowat 300 potloodsakkies vir elke leerling by Lettie Fouché ingesamel.
Benita Jacobs, bemarker by die Laerskool Willem Postma, sê die vier hoofleiers het baie moeite gedoen.
“Hulle het tydens die vakansie die skoene wat hulle bymekaargemaak het, blinkgepoets voordat dit oorhandig is.”
Die Lettie Fouché-skool vier vanjaar sy 70ste bestaansjaar.