Met suurlemoene wat nou in oorvloed is, is hierdie die perfekte resep om die gesin te bederf, maar ook vir daardie entrepreneursdae by die skool iets lekker soet om te bak.

Die resep kom uit Christine Capendale se nuwe kosboek, Baking for Profit and Pleasure, uitgegee deur Human en Rousseau.

Bruinbotter-suurlemoenskywe

Jy benodig

vir die kors:

180 g botter

180 ml strooisuiker

5 ml vanieljegeursel

Knypie sout

375 ml koekmeel

Vir die vulsel:

45 ml koekmeelblom, gesif

240 ml strooisuiker

Knypie sout

3 eiers

15 ml fyngerasperde suurlemoenskil

125 ml suurlemoensap

Versiersuiker om oor die skywe te strooi wanneer dit klaar is

Suurlemoenskyfies vir garnering

Om die kors te maak, maak só:

1. Voorverhit die oond tot 180°C. Voer ’n vierkantige bakpan (20 cm) met bakpapier uit.

2. Kook die botter oor ’n lae hitte op die stoof. Roer gereeld totdat dit ’n medium bruin kleur word. Gooi die botter in ’n bak en laat dit vir 5 min afkoel.

3. Voeg die strooisuiker, vanielje en sout by die botter en klop tot romerig.

4. Vou die meel by die mengsel in en meng tot ’n deeg.

5. Druk die deeg gelyk in die bakplaat. Bak vir ongeveer 20 min totdat die kors ’n sagte goudbruin kleur het.

Maak die vulsel só:

1. Sif die meel, strooisuiker en sout saam.

2. Meng die eiers, suurlemoenskil en suurlemoensap saam totdat dit ’n gladde mengsel is.

3. Verminder die oond se temperatuur tot 160°C. Gooi die vulsel versigtig oor die warm kors wat vooraf gebak is. Bak vir ongeveer 22 min totdat die vulsel ferm in die middel is.

4. Laat die skywe vir 1 uur afkoel en lig dit dan uit die pan en plaas op bakpapier op ’n snybord. Sny in skywe en dan in vierkante.

5. Strooi die versiersuiker oor en versier met skyfies suurlemoen.

Wenke

) Die suurlemoenskywe is nie duur om te maak nie, veral as jy vars suurlemoen gebruik wat jy pluk – of kry dit by ’n vriendin.

) Jy kan die skywe vooraf maak en ’n paar dae lank in ’n lugdigte houer bêre.

) Maak seker dat die skywe vierkantig gesny word om dit ’n professionele voorkoms te gee. Gebruik ’n liniaal en merk die lyne voordat jy dit sny.

You need to be Logged In to leave a comment.