Daar is geen rede om verveeld te wees as jy en jou gesin hierdie Desember-vakansie in Bloemfontein is nie.
Dié stad het ’n rykdom aan museums, natuurlewe en interessante aktiwiteite wat die gesin en ook besoekers sal verras. Hier is ’n paar idees:
Ontsnapspeletjies
Een van Bloemfontein se bes bewaarde geheime, is ’n speletjie vir groepe familie of vriende wat hulle uitdaag om binne 60 minute uit ’n kamer te ontsnap.
Elude Escape Rooms in Louw Wepenerstraat, Dan Pienaar, is so reg in die kraal van mense wat hou van raaisels, kodes en gevolgtrekkings maak met leidrade. Twee tot ses spelers kan aan die speletjie deelneem.
Rig navrae by 065-823-8730 of stuur ’n e-pos na theteam@eludeescaperooms.co.za.
Hou ’n piekniek
Die Oliewenhuis-kunsmuseum is ’n wonderlike plek om kinders bloot te stel aan kuns. Die groot grasperke en koeltebome bied ook ’n lekker plek vir ’n rustige piekniek op ’n mooiweersdag. Geen stoele en tafels word toegelaat nie, maar bring ’n kombers en jou piekniekmandjie en geniet ’n dag in ’n rustige omgewing terwyl die kinders kan speel en baljaar.
Kyk wild
Daar is ’n paar opsies as jy wildbesigtiging in en om Bloemfontein wil doen. Die goedkoopste een is beslis ’n besoek aan die Franklin-wildreservaat op Naval Hill.
Parkeer bo-op Naval Hill en stap eerder as om deur die reservaat te ry. As jy al met die sirkelroete omstap (die roete van die CityRun op Saterdae), sien jy baie meer wild as wat jy doen terwyl jy in ’n motor ry.
Terwyl jy daar is, onthou om foto’s te neem van die natuurlewe, wild en voëls as jy aan die Vriende van Franklin se jaarlikse fotokompetisie wil deelneem. Inskrywings vir dié kompetisie sluit op 30 April. Onthou, foto’s vir die kompetisie kan ook vanjaar geneem word by ander groen ruimtes in die stad soos die Sewe Damme-bewarea, die Vrystaatse Nasionale Botaniese Tuin en Brandkop-bewarea. Rig navrae oor die kompetisie by Andri Grobbelaar by 083-542-6556.
Reis na die ruimte
Daar is ’n opwindende program vir vertonings in die Naval Hill-planetarium gedurende die vakansie. Besoek die Facebook-blad Boyden Observatory and the Naval Hill Planetarium vir meer besonderhede oor die programme, op watter dae dit vertoon word asook kostes verbonde. Die kaartjies is by die deure beskikbaar.
Pret in die verlede
Daar is sommer talle goeie museums in Bloemfontein waarheen jy die kinders en besoekers kan neem. Die Nasionale Museum in Aliwalstraat is altyd ’n treffer. Die Freshford-huismuseum is beslis ’n baie goeie bestemming – nie net sien jy hoe ’n huis uit die Edwardiaanse-era in Bloemfontein gelyk het nie, jy kry ’n toer waarop jy baie besonderhede oor dié tydperk leer.
Gaan loer ook in by die Oorlogsmuseum in Monumentweg – ’n bestemming wat beskik oor ’n magdom uitstallings waaronder die nuwe Rundle-huismuseum op die terrein.
Toer deur die stad
Bederf besoekers met ’n persoonlike toer deur die stad aangebied deur ’n opgeleide toergids.
Tony Horn van Bush Junkies bied toere na geskiedkundige plekke en interessanthede in die stad. Die ideaal is groepe van 3 tot 4, maar kontak hom by 082-953-0737 vir meer inligting