Just Bliss se oulike klein winkeltjie in Waverley

Just Bliss se oulike klein winkeltjie in Waverley
Die oulikste klein winkeltjie agter haar woonhuis in Waverley is nou die tuiste van Ansulene Prinsloo se reeks handgemaakte, natuurlike badprodukte, Just Bliss.

Besoekers aan markte soos die kwartaallikse Franse Mark

ken al die handgemaakte lekkerruik-sepies en ander produkte van ’n verskeidenheid natuurlike bestanddele.

Ansulene sê baie van haar klante het gesê hulle kan nie wag tot die volgende mark nie, sy moet dit vir hulle moontlik maak om by haar huis te kom koop.

“Ek het ’n kamer in die huis ingerig, maar gou was dit hopeloos te klein. Ons het toe die vroue van Cosy Homes hier in Bloemfontein genader om vir ons een van hul klein huisies agter in die erf te bou,” vertel sy.

Gereelde klante het op 20 April die opening van hierdie spoggerige nuwe winkel bygewoon.

Nella Cilliers is Ansulene se regterhand wat klante in die winkel ontvang en vir hulle van al die produkte vertel.

“Ansulene kry gereeld ’n nuwe idee, en dan werskaf ons in die werkswinkel om dit ’n werklikheid te maak,” vertel Nella.

Just Bliss is bekend vir sy handgemaakte seep – gemaak van natuurlike olies en botter.

“Ons gebruik hennepolie in die meeste van ons produkte,” vertel Nella.

“Ons eksperimenteer ook met allerlei ander natuurlike olies soos turksvy. Turksvy het talle goeie bestanddele wat dit perfek maak om te gebruik in skoonheidsprodukte.”

Benewens die seep en gliserineseep, is daar liggaams- en haarsproei, natuurlike deodorant, badsout, gesigskropmiddel en vele meer.

Die twee vroue is vandeesweek en volgende week by hul stalletjie op Bloemskou en gaan ook vanjaar op Nampo uitstal.

As hulle nie op ’n mark of ’n skou is nie, is die winkel weeksdae van 08:30 tot 16:30 oop by Waverleystraat 72.

Nella sê hulle beplan in die toekoms “Sip and Soap”-dae waarop gaste die geleentheid sal kry om hul eie seep te maak terwyl hulle lekker saamkuier.

Verlekker jou in die voordele van natuurlike produkte met seep wat jou, jou vriende en geliefdes sommer heerlik sal bederf. Veral met Moedersdag wat om die draai is . . .
p

Nella Cilliers met van Just Bliss se natuurlik, handgemaakte seep.

You need to be Logged In to leave a comment.