’n Ernstige lekplek net duskant die brug in Kolberylaan wat daartoe gelei het dat ’n digte bos riete hier begin groei het, is reeds maande gelede by die Mangaung-metro aangemeld.
Valerie de Kock, VF Plus-raadslid, sê water het uit die veld duskant die skoubrug tussen Kolberylaan en James Dickstraat gestroom.
Prof. Elizabeth Snyman-Van Deventer sê waterafdeling het gesê hulle kan niks aan die lekplek doen nie, omdat die parke-afdeling eers die bos moet uitkap sodat hulle daar kan uitkom.
“Ek kan nie verstaan hoe een departement van die metro nie met ’n ander praat nie,” sê sy.
Die VF Plus het Saterdag 6 April toerusting gebring en die rietbos uitgekap totdat die opening waaruit die water vloei, gesien kon word. Die groep vrywilligers het ook sakke vol onkruid weggery en die gebied skoongemaak.
De Kock sê hulle het die metro gekontak sodat hulle die waterlekplek kan regmaak. Die metrowerkers het bevind dat rioolwater uit die gat borrel.
“Die lekplek is oorkant ’n skool en kinders loop elke dag hier verby. Alg het begin groei wat die sement glad en gevaarlik gemaak het,” sê sy.
Snyman-Van Deventer sê met die uitkap van die bosse is nog ’n lekplek naby die skool ontdek.
Uiteindelik het munisipale werkers Dinsdag die blokkasie skoongemaak, asook ’n nuwe mangat gebou. ’n Deksel is daarop geplaas om dit veilig te maak.