Die lente gaan die naweek behoorlik ingelui word met ’n vrolike Franse Mark by Villa Avianto in Kwaggafontein.

Verwag die roep van blommegeure en sagte kleure van bloeisels op die mark wat Saterdag (03/09) om 08:00 met die gebruiklike klokkespel gaan begin.

Van die nuwe uitstallers gaan markgangers behoorlik na die beursies laat gryp. Daar is sjokolademakers wat spesialiseer in Belgiese sjokolade, vars blomme en varsgebakte brood – wie sal dit kan weerstaan?

Suretha van Heerden, mede-eienaar van Villa Avianto en organiseerder van die mark, sê die gourmet-slakke is ook baie gewild.

Soos altyd is daar watertand-etes beskikbaar. Kom gerus na die mark vir ontbyt voordat jy tussen die talle uitstallers drentel.

Romantiese agtergrondmusiek gaan onder meer deur Ian Rautenbach verskaf word.

Kom maak Saterdag ’n draai by die mark wat tot 15:00 duur. Toegang is R30, kinders van gr. 1 tot gr. 7 se toegang is R10 en kinders jonger as 6 jaar se toegang is gratis. Skakel 083-329-4872 met navrae oor die mark.

You need to be Logged In to leave a comment.