Kom proe aan ’n groot verskeidenheid whiskeys en jenewers op Be Human se Whiskey & Gin-fees terwyl jy lekker saam met vriende en familie kuier en jou verlustig in vermaak deur bekende kunstenaars.
Die fees, wat op Saterdag 22 Oktober by Be Human op die plaas Middelwater plaasvind, begin om 12:00.
Gaste sal dan tussen die stalletjies kan dwaal en met 10 proe-kaartjies verskillende soorte whiskeys en jenewers kan proe en ook van die voorraad koop om huis toe te neem.
Verskillende kunstenaars gaan deur die loop van die dag gaste vermaak.
Plaaslike sanger Daniel Wesley tree om 14:00 op en Neil Nachtrein sal gaste van 15:15 af met sy musiek vermaak.
Om 16:30 tree Karoo op en om 17:45 kom Ivan Roux aan die beurt.
Sunset Sweatshop lei die aand se musiekvermaak in met ’n vertoning om 19:00 en 20:30 is die gewilde groep Die Heuwels Fantasties daar om gaste se voete te laat jeuk.
Gaste word versoek om ’n kombers saam te bring wat vir liefdadigheid geskenk gaan word.
Kaartjies wat die 10 proe-kaartjies en die musiekvertoning insluit, kos R300.
Kaartjies vir die nuwe BBP-losies wat onlangs ingerig is, kos R12 000. Daar is plek vir 12 mense in elke suite wat tien proe-kaartjies, verversings, braaigeriewe met braaipakke wat vooraf bestel kan word, en vele meer insluit.
Kinders 18 jaar en jonger se toegang is R150, en kinders jonger as 5 jaar se toegang is gratis.
Bespreek jou kaartjies by Computicket.