Bloemskou is volgende jaar 140 jaar in die bedryf. Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof, sê opwindende herinneringe is oor jare geskep.
“Die uitgangspunt was nog altyd dat dit ’n skou is wat die gemeenskap dien. Die skou bied ’n platform vir die stoetveebedryf in landbou en die grootste opelug-saalperdskou ter wêreld word hier aangebied, asook die grootste kreatiewe kuns- en handwerk-afdeling in Suid-Afrika.”
Prinsloo sê Bloemskou soek na stories en foto’s van 20 jaar en langer gelede.
“Die nasionale museum gaan in die eerste kwartaal van 2023 ’n uitstalling oor die geskiedenis van Bloemskou hou.”
Lesers met stories en foto’s kan dit voor 31 Januarie stuur. Vyf se foto’s en stories kan hulle elk dubbelkaartjies besorg vir Bloemskou 2023, van 27 April tot 6 Mei. Skakel 051-448-9894 of stuur inligting na info@bloemskou.co.za.