Dr. Jaco Joubert, prof. Marius Coetzee en dr. Leriska Haupt van die departement hematologie en selbiologie aan die Universiteit van die Vrystaat was by ’n proefneming vir die behandeling van hemofilie (bloeiersiekte) betrokke.Foto: Verskaf


Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het met toetse in die nuwe aanwending van bestaande medisyne ’n deurbraak in die moontlike behandeling van hemofilie (bloeiersiekte) gemaak.

Farmovs, ’n kliniese navorsingsmaatskappy van die UV, die kliniek vir volwasse­bloeding­siekte van die Universitas- Akademiese Hospitaal en kundiges van die UV was by die eerste fase van hierdie kliniese proefneming betrokke.

Dit vorm deel van ’n wêreldwye studie.

Volgens dr. Nitha Ramnath van die UV se afdeling vir kommunikasie en bemarking kan die maande van harde werk tot die ontwikkeling van ’n nuwe behandeling vir hierdie ernstige siekte lei.

Omdat Farmovs gerieflik by die UV geleë is, kon die groep pasiënte hulle inskryf vir dié internasionale studie wat van Januarie tot Julie verlede jaar gedoen is, sê sy.

“Hopelik kan dit binnekort die pasiënte bereik wat in groot nood is.”

Prof. Marius Coetzee, ’n geaffilieerde medeprofessor van die departement hematologie en selbiologie aan die UV, was die hoofondersoeker van die studie.

Hy en drs. Jaco Joubert en Leriska Haupt, sy kollegas, werk op ’n gereelde grondslag met hemofilie A.

Nuwe behandelings kan die lewensgehalte van hierdie pasiënte verbeter, en dit is waarom hulle aan die studie deelgeneem het, sê Ramnath.

Volgens Coetzee is hemofilie A ’n oorerflike siekte wat by een uit elke 10 000 mense, meestal mans, voorkom.

Dit word veroorsaak deur gebreke in die bloedstollingsfaktor VIII.

“Mense met hemofilie bloei langer as ander. Hulle bloei dikwels in hul gewrigte en spiere, maar kan enige plek bloei. Dit kan hul lewe­ bedreig,” sê Coetzee.

“Die uitslae was bemoedigend en sal moontlik tot ’n verdere fase 2- en fase 3-studie lei. Vir pasiënte wat aan hierdie siekte ly, beteken die uitslae nuwe opsies vir behandeling.”

You need to be Logged In to leave a comment.