Die geel oom het laataand opgedaag. Oorkant my was die skoolseun met die gebreekte neus wat opereer moes word. Sterk. Stil. ’n Pakkie lekkergoed op sy bedkassie. Selfoon in die hand. Langs hom was die oom wat kort tevore uit die teater gekom het vas aan die slaap. Ek het my beurt afgewag.
Ek probeer hospitale vermy; maar ’n roetine skildklierskandering het kommer gewek, en die tyd na my narkoseslaap het afgetik.
Dit was nog midde die hoogtyd van Covid-kommer. Niemand kon ongetoets opgeneem word nie.
Toe die geel oom inkom, was daar juis kommer oor sy hoes. Die geel dalk toe te skryf aan ’n lewerprobleem.
“Is hy getoets?”
Sy vrou, netjies gegrimeer, kon ten spyte van streng besoektye saam met hom inkom en het die vrae beantwoord. Ek kon nie die hele gesprek volg nie, maar ek kon sien hy was siek. Baie siek.
Sy geel was anderkant bleek. Sy asemhaling moeisaam, maar sterk genoeg dat hy nie ’n suurstofmasker nodig gehad het nie. Hy het met ’n noodvoertuig gekom. Van ’n omliggende dorp.
Die gordyne rondom sy bed is toegetrek en daar was ’n geskuifel en gefluister.
Toe die gordyne weer oopgetrek word, lê hy gestut teen die kussings. Die tannie pak ’n paar goedjies uit ’n haastig gepakte handtas, vou dit netjies, groet almal, en vertrek. Gaan losies soek.
Ek het gedink die geel oom gaan dadelik slaap. Sy lyf verlep onder die wit linne. Hy het nie. Die tannie was skaars weg of hy praat met ’n verpleegster. Hy wil homself gaan was. Nog ’n verpleegster staan nader. Weer ’n ritselgesels voordat hulle hom op sy voete help. ’n Gehawende skeersakkie word uit sy bedkassie gevis. Hy swoegstap die badkamer binne.
Dit neem ’n hele rukkie voordat hy verskyn. Die reuk van sy naskeermiddel laat my aan my pa dink. ’n Tawwe, taai, trotse generasie. Sy vooroorkromming herinner my aan Totius se doringboompie – geknak, maar moedig. Sy gelaat nou ekstra geel: gedaangeel.
Die verpleegsters help hom op die bed. Sy asem hortend. ’n Bietjie tandepaste wit aan sy onderlip. Wanneer sy kop teen die kussings terugval, is sy kragte gedaan. Met sy oë toe hoor ek hoe hy sy asem begin terugkry. Dan ’n sug van tevredenheid – of dalk oorwinning?
Terwyl hy aan die slaap raak, dink ek aan my pa se generasie. Hulle wat deur die oorlog geleer het om dankbaar te wees vir water om in te bad, geweet het dat menswaardigheid by persoonlike higiëne begin.
En dat dit nie saak maak hoe moeg jy is nie, jy moet selfrespek hê, trots wees en ander in jou ruimte respekteer.
Deesdae, as ek my vasloop in koue beurtkragwater, winteroggend-skeer-skroomvalligheid en laksheid oor klerekaskeuses, onthou ek weer die geel oom.
Hy het ons iewers tussen my operasie en terugkeer na die saal verlaat – ek weet nie waarheen nie, ek weet net dat hy my met sy “wasberadenheid” ’n les geleer het wat ek nooit sal vergeet nie: Werklike waardigheid wys in die nederigste van dade.