‘n Liedjie is meer as net musiek en woorde – in die regte hande is dit iets wat lewens kan verander.
Soveel te meer as een van Suid-Afrika se groot kunstenaars deel is van dié poging.
“As ek terugdink oor die jare, vandat Herleef begin het tot en met nou, was die droom nog altyd om iets anders tot die gospelbedryf te bring,” sê Rikus van der Vlies van dié Bloemfonteinse gospelgroep.

“Die liedjie ‘Verf my Rooi’ voel soos die eerste tree in daardie rigting.”
Rikus sê die liedjie is ‘n storie van elkeen van hul groep.
“As ek dink oor die insperasie agter die song, dan dink ek aan Johannes 8 waar Jesus in die sand skryf en sê jy wat sonder sonde is, moet die eerste klip gooi. Ek dink ons leef in ‘n wêreld waar ons so dikwels klippe gooi sonder om mekaar se storie te ken en sonder dat ons mekaar regtig verstaan. Die uiteinde is egter dat Jesus se genade vir ons almal ewe mooi is en dat nie een van ons geregtig is om klippe te gooi of mekaar met stokke te slaan nie.”
Rikus sê hulle het die voorreg gehad om in die ateljee saam met Jan Blohm te werk. Rikus en sy broer Franko het na Pretoria gery om die konsep met hom te gaan deel.
“Wat ‘n belewenis. Jan Blohm het net ‘n manier om emosie uit te druk soos geen ander. Ons het dadelik geclick; ek het vir hom die liedjie op die kitaar gespeel en ek onthou Franko het gesê: ‘so wat ons einklik wil hoor…’ Voordat Franko se sin klaar was, het Jan gesê hy kry ons in die studio.”
Rikus hoop dat mense die hart agter die liedjie sal sien, maar ook sal leef.
“Ons as gelowiges het ‘n plig om die Bybel te wees wat die wêreld kan lees. Ons kan nie bekostig dat ander mense seerkry in hul geloof as gevolg van die manier waarop ons optree nie. Ons moet altyd daarna streef om meer soos Jesus te leef.”
Die liedjie “Verf my Rooi” is van 28 Maart af op alle digitale platforms beskikbaar. Herleef hou die aand om 18:30 ‘n vertoning by Tevah Venue in Bloemfontein, waar hulle gaan sing en stories gaan deel. Toegang kos R100.
Die groep tree op 6 April op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op.
You must be logged in to post a comment.