Jannie du Toit se sangloopbaan strek nou al oor 50 jaar. Foto: Deon Raath


In die middel van ’n besige toer van 24 optredes, en terwyl die laaste episodes van sy televisiereeks ’n Liedjie vir jou te sien was, het Jannie du Toit se 70ste verjaardag op 13 Desember verlede jaar amper ongemerk verbygegaan.

Tog het ’n spesiale kompetisie, ’n Nuwe Baadjie, op sy verjaardag begin. Dié kompetisie, wat hy in samewerking met die ATKV aanbied, is gemik op musikante van 35 jaar en jonger.

Die idee is dat hulle een van Du Toit se liedjies neem en daarvoor ’n nuwe baadjie aantrek.

Op die webblad nuwebaadjie.­co.­za is 50 MP3’s van sy liedjies beskikbaar waarmee jong kunstenaars kan rondspeel soos hulle wil om aan sy liedjies ’n ander kleur te gee.

“Ek het die 50 uit sowat 150 liedjies gekies. Sommiges omdat hulle bekend en gewild is, ander omdat hulle die kunstenaar op die een of ander manier gaan uitdaag,” sê Du Toit.

“Ek verwag van die deelnemers ’n mate van musikaliteit, en die eindproduk moet darem herkenbaar wees. Verder kan hulle totaal hul eie stempel daarop afdruk.”

Al sal dit baie werk verg, wil hy aan elkeen wat deelneem eerlike en volledige terugvoering gee.

Die idee vir die kompetisie het al posgevat nadat Karen Zoid in 2018 “ ’n Liedjie vir jou” vir haar program opgeneem het, met ’n bietjie rock en blues daarby. Dít is die soort nuwe baadjie wat hy in gedagte het. Dit het ook die liedjies waarmee hy sy loopbaan begin het aan ’n hele nuwe gehoor bekend gestel.

Die kompetisie is die derde van verskeie maniere waarop hy dankie sê vir die vreugde van 50 jaar se musiek maak, sê hy.

Hy het ’n program, BeSTEMmings, saamgestel waarmee hy op verskeie plekke deur die land getoer het. Dit was propvol Afrikaanse liedjies wat hy en sommige van sy kunstenaarsvriende oor die jare heen gesing het.

Dan was daar die televisiereeks ’n Liedjie vir jou wat op kykNET­ Nou! te sien was. In hierdie reeks kon kykers sy volledige musikale reis meemaak.

“Dit was harde werk en ’n droom wat danksy kykNET verwesenlik is. As ek nog verder kan droom, sal dit wees dat die reeks verder gesien kan word en ’n nog wyer gehoor sal kan bereik.”

Volgens Du Toit gaan die Nuwe Baadjie-projek op die sosiale media gedryf word sodat mense gereeld kan hoor en sien wat aan die gebeur is. Selfs musikante in die buiteland wat sterk Afrikaanse wortels het, mag deelneem. Die totale prysgeld vir die kompetisie is R50 000.

’n Beoordelaars, in samewerking met mense wat op sosialemediaplatforms kan stem, sal uiteindelik 12 finaliste aanwys. Hierdie 12 sal die geleentheid kry om ’n slypskool, wat oor twee dae strek, by te woon. Hier sal Du Toit en van sy kunstenaarsvriende die deelnemers help om hul weergawe te verfyn. Elke finalis sal dan die geleentheid kry om op ’n gala-aand voor ’n gehoor op te tree.

Die 12 finaliste se verwerkte liedjies sal ook op ’n CD onder die JNS-musiekhandelsmerk opgeneem word en deur Vonk Musiek versprei word.

“Toe ek aan die begin van 2021 met die idee na die ATKV gaan, was die uitvoerende hoof van kunste, Gerrie Lemmer, dadelik vuur en vlam. My vriend Coenie de Villiers het my ook aangemoedig en gesê dit is ’n fantastiese idee.”

Inskrywings sluit op 13 Mei. Vir meer inligting kan belangstellendes nuwebaadjie.co.za besoek.– Mariana Malan

You need to be Logged In to leave a comment.