Liefde was beslis vandag in die lug – of dan oor die luggolwe – toe radio-omroeper Michiel Combrinck vir Nadia Kuit op die lug vra om sy vrou te word.
Nadia, ’n maatskaplike werker by Vrystaat-Versorging in Aksie se Bloemfontein-tak, het deeglik voorberei vir ’n “radio-onderhoud” wat sy vandag met Michiel moes voer oor dié liefdadigheidsorganisasie se bedrywighede.
Min wetende dat dit net ’n voorwendsel was om haar daar te kry vir iets heel groter.
Kort nadat Michiel die 13:00-nuus op Radio Rosestad gelees het, was Nadia sy eerste gas in die ateljee by dié gemeenskapsradiostasie in Bloemfontein.
Nadia vertel sy het goed voorberei vir die onderhoud en alles wat sy wou sê, was uitgedruk. “Ek het dit selfs hardop geoefen,” sê sy.
Toe sy in die ateljee kom en agter die mikrofoon inskuif, het Michiel die “pragtige Nadia Kuit” aan luisteraars voorgestel.
“En ek mag sê sy is pragtig, want twee jaar gelede in hierdie einste stoele in hierdie einste ateljee het ons paaie die eerste keer gekruis. Ek het daardie dag met die eerste oogopslag geweet, sy is die een vir my. Sy is my sielsgenoot en my beste vriend. Ek wil vandag die grootste dag van my lewe deel met my Rosestad-familie,” het hy oor die lug gesê.
Hy het toe agter sy lessenaar uitgeskuif, op sy knie gegaan en die liefde van sy lewe gevra om met hom te trou.
Sy het hom net in een woord geantwoord: “Ja”.
Oomblikke later het Nadia steeds gebewe oor dié groot oomblik.
Sy sê hulle “kyk al lankal” vir mekaar, maar gaan nog net so paar maande uit.
“Maar as ’n mens weet, dan weet jy,” het Nadia ná die tyd gesê.
Michiel is al 11 jaar lank ’n omroeper op Radio Rosestad en behartig deesdae die program 12 tot 3 C’est la vie met Michiel Combrinck.