In 1945 het hulle as jong mense mekaar op ’n tiekieaand in Viljoenskroon se stadsaal ontmoet. Vanjaar vier Kosie Reynders (99) en sy trouvrou van destyds, Sussie Steenkamp (98), hul 72ste huweliksherdenking.
Dié liefdesverhaal, wat 76 jaar gelede in Viljoenskroon begin het, word vandag nog met deernis, liefde en respek deur die twee besonderse mense geskryf.
Tannie Sussie, soos sy oral bekend staan, se gesondheid het in ’n stadium verswak en sy moes by die Viljoenskroon Sentrum vir Bejaardes se binnesentrum opgeneem word.
Tot in daardie stadium het die egpaar in die buitesentrum, waar bejaardes nog selfversorgend is, gewoon.
Kosie het elke oggend reeds voor ontbyt sy geliefde Sussie met ’n blom in die hand gaan opsoek.
Al kon die twee nie meer permanent bymekaar wees nie, het hulle elke dag so beplan dat hulle saam was.
Maretha Nieuwoudt (61), die egpaar se dogter, sê haar ouers skryf hul kosbare huwelik toe aan die feit dat hulle vir mekaar bedoel is en dat hulle twee vervulde mense is wat lief is vir die Here, altyd gesond geleef het en mekaar en hul medemens liefhet en dien.
Oom Kosie, soos almal hom ken, was 42 jaar lank koöperasiebestuurder by die Kroonstadwes-koöperasie se tak in Viljoenskroon.
Die koöperasie het 11 takke in die Vrystaat gehad waarvan die tak in Viljoenskroon een van die grootstes was.
Sy sê haar pa word onder die distrik se boere tot vandag nog onthou as iemand wat die leisels kon vasvat en met noukeurigheid en presiesheid elke druppel reën aangeteken het.
Hy hou nou nog boek van die reënval, sê sy.
Nieuwoudt sê haar pa is ’n ware jintelman, iemand wat bekend is vir sy integriteit.
Hy het in Bothaville grootgeword en is die oudste van ses kinders.
Hy is die enigste seun en het drie susters wat nog leef.
Sussie is ’n gebore Kroonstadter en was een van tien kinders. Sy het as jong vrou by die SAUK gewerk en het later in Viljoenskroon as ontvangsdame by ’n spreekkamer gewerk. Sussie is ’n talentvolle vrou wat saam met haar susters ’n sanggroep, die Steenkamp Susters, gestig het.
Hulle het selfs ’n plaat met hul musiek uitgegee.
Nieuwoudt sê haar ma is baie kunstig en het later jare haar eie bloemistewinkel besit. Hulle was ook die stigterslede van die Volkspelevereniging in Viljoenskroon.
Die geliefde egpaar het ook twee seuns, Jurg Reynders (70) en Jannie Reynders (67), nege kleinkinders en tien agterkleinkinders.
Die egpaar het op 63-jarige ouderdom hul een kleinseun, Jaco, as pasgebore baba ingeneem en grootgemaak nadat sy ma dood is.
Nieuwoudt sê haar ouers is bekend om hul gasvryheid.
“Hulle is positiewe mense met wonderlike talente wat hulle altyd gebruik het om hul gemeenskap te dien.”
Sy sê hulle is vir die familie ’n uitmuntende voorbeeld van hoe om te lewe.
“Ons is dankbaar vir hul gesondheid en dat hulle met soveel grasie leef.”
Wat is oom Kosie se raad vir ’n gelukkige huwelik?
“Man, dis maklik. Bly net lief vir jou vrou.”
Tannie Sussie sê: “Ondersteun jou man in alles wat hy doen.”