Dis die bont beer bo-op die loopraam wat my oog vang, toe die ou tannie met ’n sukkel-skuifel sitplek kry langs my in die koffiewinkel hier in Bloem.
Toe ek hoor hoe sy met hom fluisterstem praat, is my aandag onverdeeld. Sy moes dit aanvoel, want die kleurryke lyf word versigtig, soos ’n kind, uitgetel en tussen ons neergesit.
“Hallo, Hart! Ek kry net gou vir Bieljam reg. So ja…”
Effens oorbluf groet ek terug, en so word ek deel van ’n onbeplande kuier wat immer in my hart sal lê.
Vanwaar die naam Bieljam? Sy lag, en haar oë trek die padkaartlyne, wat rond en bont oor die oumensgesiggie loop, bymekaar.
“Dis my pa. Dis hý wat doerie jare van die Bybel se Bileam, Bieljam gemaak het. Altyd vir homself die moeilike name makliker loop maak.”
Sy kyk ver terwyl sy onthou. Stuk-stuk oor die melktert en koffie pak sy brokkies uit die familietas. Sommige feite is vaag, ander, veral dié van ver jare terug, word met klokhelderheid vertel.
Sy het drie kinders, almal deel van die diaspora van ons tyd. Die lag verdwyn uit haar oë, en die padkaart op haar gesig val terug in plek. Die lyne loop na Kanada, Nederland en Australië.
Die jongste kleinkind is nou vier. Die foto wat sy uit die voorste sak van haar loopraam trek, wys ’n klein, blonde krulkop, laggend op sy pa se skoot. Sy het Charlie nog nie ontmoet nie. Die kinders werk hard, en hulle sê die lewe daar ver is duur. Voordat Covid se verwoestingstog toegeslaan het, het die twee dogters en seun beurte gemaak om te kom kuier. Die skoon- en kleinkinders het sy nog nie weer gesien nie.
Die volgende foto’s wat uit die loopraam klim, vertel van drie verskillende gesinne, opgeskote tieners en mondigplussers saam met die pa’s en ma’s. Haar wysvinger rus verleë op ’n paar van die jong gesigte. Grootword maak hulle onbekend vir haar. Sy raak onseker oor wie is wie. Die name begin haar ook ontwyk.
En waar pas Bieljam in?
Net voor Kersfees verlede jaar het hy van ver in die wêreld aangekom. Die twee dogters het koppe bymekaar gesit, en Bieljam is gebore uit afvallappe van al die kinders se weggeeklere. As’t ware aangetrek vanuit drie lande, is Bieljam gepos. Die oumenshandjie skulp beskermend om die beer se kop.
“Hy is ’n goeie vriend. Luister altyd, dag en nag, en praat nooit terug nie,” glimlag sy met ’n weemoedtrek.
Ek stap saam met haar uit. Ek, óók ma van twee oorsee, draai links, sy draai regs, terug na die aftreeoord oorkant die straat. Ek kyk haar agterna, en sien hoe sy liefderik iets vertel vir die beer, en dan skaterlag. Ek sien ook hoe sy met haar sakdoek ’n traan afvee van Bieljam se wang. En vlietend wens ek Bieljam kon uit die bloute, soos die donkie in die Bileamverhaal, ’n paar woorde praat.
Dalk sou hy die name van die mense wat sy liefhet, kon fluister in haar oor.