Liefdevolle sopbediening langs De Bruynstraat in Bloemfontein ’n ware geskenk vir almal

Gerty van Aswegen en Liezel Grobler Dinsdag by hul stalletjie waar hulle gratis sop in De Bruynstraat, Unviersitas, uitdeel.Foto: Lientjie Mentz


“Gratis sop”, nooi ’n bordjie langs ’n bedrywige De Bruynstraat in Bloemfontein almal uit. Enigeen kan kry. Sonder vrae.

Drie lidmate van die NG kerk Universitas-Wes Bloemfontein, staan Dinsdae-middae om 16:00 gereed langs dié besige straat om aan almal wat wil hê warm, tuisgemaakte groentesop te bedien.

Gerty van Aswegen sê daar was vroeër ’n sopkombuis by die kerk, maar dit is gestaak. Sy en vrywilligers het aan die begin van dié winter besluit om weekliks sop te maak en dit uit te deel aan verbygangers.

Die vrywilligers by die sop is van links Danie Strauss, Gerty van Aswegen en Liezel Grobler.Foto: Lientjie Mentz

“Ons kry skenkings van vleis en groente en vrywilligers help my om die groente te skil en op te sny,” verduidelik sy. “Dit raak sommer ’n lekker gesellige kuiertjie so om die kospotte.”

Vandag net sowat 10 minute nadat hulle begin het om sop in te skep vanuit die begasiebak van die Volkswagen Gholf, was die eerste van twee groot emmers reeds leeg.

“Baie van die mense wat van die sop kom haal, is werkers wat hier by die bushalte naby wag,” vertel Gerty. “Ander is mense wat verbystap of verbyry. Daar is ’n hele paar bejaardes van die Striata-aftreeoord wat hier kom sop haal en uitdeel, tot die hekwag kry ook lekker warm sop,” vertel sy.

Liezel Grobler wat vir Gerty help om die sop uit te deel, sê hier het eendag ’n vrou verbygery en die bordjie gesien. “Sy het hier kom stop en vir ons R100 geskenk.”

Gerty sê die sop wat hulle bedien, is vir almal. “Ons doen dit omdat ons vir mense omgee. Ons vra nie vrae nie. Ons gee met liefde.”

Evelyn Mhlotshabe en Betty Ishmael met die sop wat hulle kom haal het.Foto: Lientjie Mentz

You need to be Logged In to leave a comment.