“Haai oe, Blommie. Dis weer tyd vir Liewe Heksie.”
Margit Meyer-Rödenbeck is terug as almal se geliefde heksie in Liewe Heksie vang vis op vanjaar se Vrystaat Kunstefees.
Hierdie Heksie-produksie is verlede jaar op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) met ’n KKNK Kanna-eerbewys vir beste kinderteater bekroon.
Die produksie, geskryf deur Meyer-Rödenbeck en gegrond op Verna Vels se stories, is deur Arena Produksiehuis vervaardig. Deon van Zyl is saam met haar op die verhoog.
Dié keer span Liewe Heksie haar besem in as ’n visstok, maar dit sukkel maar om ’n vis te laat byt. Sy raak vreeslik opgewonde wanneer sy wel daarin slaag: “Haai oe, dis vir my so lekker as ek ’n vis vang. Dan sing ek sommer ’n liedjie en die vis wil saam sing. Ek weet, want sy bek gaan so oop en toe. Of dalk gaap hy, omdat hy moeg is, dan gooi ek hom terug en vang ’n nuwe ene.”
Maar hoekom raak Koning Rosekrans se forelle dan minder? Is Levinia die skuldige of is die nare Geelheks ook weer in die prentjie? Liewe Heksie het dringend jul hulp nodig.
Verna Vels se immergroen verhale kry lewe met baie gehoordeelname en voortsnellende bedrywigheid.
Meyer-Rödenbeck is die nimlike Heksie en Van Zyl draf die rolle van Karel Kat, die Geelheks en Koning Rosekrans lag-lag kaf.
In 2022 het dieselfde span die ABSA KKNK Kanna-eerbewys vir beste kinderteater ontvang, en in 2023 is die stuk vir ’n Fleur du Cap-eerbewys benoem.
Die tydlose Liewe Heksie is perfekte vermaak vir die hele gesin.
Liewe Heksie vang vis is te sien op die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein in die Kapanong-ouditiorium (Ou Kovsie-kerk) op Dinsdag 2 Julie en Woensdag 3 Julie. Albei vertonings begin om 09:30. Die kaartjies is op webtickets.co.za beskikbaar.