Liewe, wilde, sagte, stoute hart

Nadat die Kersboom weggepak en die skoolsak reggepak is, kom die tyd wanneer verliefdes vir mekaar sjokolade-hartjies en skattige teddiebere gee.


Nadat die Kersboom weggepak en die skoolsak reggepak is, kom die tyd wanneer verliefdes vir mekaar sjokolade-hartjies en skattige teddiebere gee.

Saint Valentine se dag word in volkleur by skole gevier. Vir die seuns in Grey en die meisies in Eunice is dit ’n opwindende tyd. Blomme word afgelewer en kaartjies met koerwoorde word uitgeruil.

Dit laat my dink aan die teksvers in Psalm 139, waar Dawid die Here vra om sy hart te deurgrond. Ek verstaan waarom: want die hart is erger as ’n stout kind of ’n verliefde tiener. Dit wil eenvoudig hê wat dit wil hê . . . nou!

Dit sit ’n tirade van jammerhartigheid op as dinge nie gebeur soos dit moet nie. Vir rus en vrede gee mens dikwels vir die hart sy sin. Wetende dat hy dom en ongedissiplineerd is en impulsiewe besluite maak.

Die verstand is meer realisties. Dit storm nie halsoorkop in ’n ding in nie. Daarom moet dit die onverstandige hart van seerkry bewaar. Die hart is nes ’n klein kind: uiters selfsugtig. Dit deel nie graag met ander nie. Moenie die fout maak en vir die hart sê om te wag nie . . . oe liewe jitte, hier kom die dinge. Dit gil op die hoogste noot en krul op die grond rond soos ’n peuter wat nie ’n minuut langer sonder ’n karretjie in die winkel kan voortbestaan nie. Ek wens ek kon my hart ’n pak slae gee. Salomo was reg as hy sê die hart is die bedrieglikste van alle dinge op aarde en net God kan dit tem.

Andersyds is die hart soos ’n onskuldige kind  dit hardloop oop-arms na Jesus toe. Dit glo maklik. Vertrou maklik. ’n Kinderhart maak blitsvinnig maats en vergewe gou ander se oortredinge. Kyk maar na die gr. 1’s van 2024. Die trane wat voor skool gestort is, is vinnig vergete en teen pouse is die lewe ’n lied.

Soos ’n weerlose kind word die hart maklik uitgebuit. Maar daardie naïwiteit maak dat hy in Kersvader en die tandemuis glo. Kan ons tog so maklik in ’n goeie hemelse Vader glo. Die mensehart word maklik gekwets, maar soos ’n mishandelde hond kom dit altyd weer terug. Selfs al word dit sleg behandel, vertrap en van liefde gestroop. Die gebrokenheid van die lewe maak die hart skepties en wantrouig. Maar as God dit aanraak, dit heelmaak en vernuwe, kry jy ’n nuwe standvastige gesindheid nes Dawid.

Laasgenoemde en sy wyse seun waarsku dat die hart bewaar moet word, want daarin lê die bestaan van die mens opgesluit. Sonder ’n hart kan ’n mens fisiek nie oorleef nie. Die gebrokenheid van die wêreld verander ’n opgewonde kinderhart in klip. As jy nie meer uitbundig kan lag en die mooi in die lewe kan waardeer nie, moet jy die God van die heelal vra om jou wilde hart te laat bedaar. Gee vir Hom jou stukkende hart. Hy sal dit sagkens aanraak en jou weer ’n vleeshart gee.

You need to be Logged In to leave a comment.