Die wenners van die Vriende van Franklin se fotokompetisie het Saterdag (15/07) hul pryse ontvang. Op die geleentheid by Laminin Paints is van links Lizé Ströhfeldt (Laminin), Andri Grobbelaar (voorsitter van die Vriende van Franklin), Leon Keyter (algehele wenner), Mariana Brits (wenner in die afdeling vir foto’s oor aktiwiteite) en Anton Engelbrecht (namens Mydrie en Hennie Engelbrecht).Foto: Lientjie Mentz


Die meer as 80 foto’s wat lesers vanjaar ingeskryf het vir die Vriende van Franklin se jaarlikse fotokompetisie het meer as net mooi prentjies van natuurskoon in Bloemfontein opgelewer.

Só het Andri Grobbelaar, voorsitter van die Vriende van Franklin, gemeen tydens ’n geleentheid waarop die wenners in vyf afdelings Saterdag (15/07) pryse ontvang het.

Grobbelaar, ook ’n lektor en navorser ver­bonde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement dierkunde en entomologie, sê die foto’s het ook wetenskaplike waarde.

“Die foto’s is vir ons as wetenskaplikes ’n bykomende bron van kennis oor watter plante en diere in die groen gebiede in die stad voorkom.”

Deelnemers kon foto’s in vyf afdelings inskryf, geneem in die Franklin-reservaat of in enige van die bewareas in die stad.

Grobbelaar sê die inskryfgeld gaan aangewend word om die dam op Naval Hill te seël en mettertyd ’n voëlskuiling daar in te rig.


Bloemnuus
was die mediaborg vir die kompetisie en het ’n koopbewys aan elk van die wenners geskenk.

Laminin Paints, Medi-chem Pellissier Wellness Centre en Kloppers het ook pryse geskenk.

Mariana Brits, wenner in die afdeling vir gemeenskapsdeelname en aktiwiteite, het ook klere met “I love BFN” daarop van die Vriende van Franklin ontvang.

Leon Keyter, algehele wenner en wenner in die afdeling vir wild, het ’n wisseltrofee ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.