Kroonstad – ‘n Gruwelike ontdekking is vroeër vandeesweek op ‘n plaas in die Kroonstad-distrik gemaak toe die liggaam van ‘n jongman gevind is. Daar word vermoed dat hy vermoor en op die plaas begrawe is.
Volgens kapt. Lorraine Earl, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het die polisie op Woensdag, 20 Augustus, gereageer nadat ‘n leidraad uit die gemeenskap ontvang is. ‘n Taakspan van Bloemfontein is ingespan om die bewerings te ondersoek, wat gelei het tot die afgryslike vonds.
Earl het vanoggend bevestig die liggaam is kort ná die polisie se aankoms op die plaas gevind. Die identiteit van die oorledene is nog nie bevestig nie, en verdere ondersoek word om vas te stel wat presies gebeur het.
Niemand is tot dusver in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie doen ‘n beroep op die publiek om enige inligting wat tot ‘n deurbraak kan lei, aan hulle deur te gee.
Die ondersoek duur voort.





