Nic van Wyk se bottel-en-pakkie-hoenderslaai uit Brood en Botter.


Sjef, restauranteur en TV-aanbieder Nic van Wyk het sy eerste kosboek met herinneringe oor sy kosreis van 21 jaar pas bekend gestel.

In Brood & Botter vat Nic sy herinneringe oor onthoukos, nostalgiese restaurantgeregte en regte hartskos in een boek saam.

Daar is ’n verskeidenheid resepte met ’n fokus op kos sonder fieterjasies.

Hier is een van Nic se resepte in Botter & Brood vir ’n lekker somerslaai wanneer jy nie tyd het om lank te kook nie.

Bottel-en-pakkie-hoenderslaai

Dit lewer vier porsies

Jy benodig:

400 g hoenderborsies, in dun repies gesny;

canola-olie om in te braai;

fyn sout en varsgemaalde swartpeper;

sowat 20 ml sjerrieasyn;

200 g botterblaarslaai;

Ina Paarman se Ceaser-slaaisous;

parmesaankaas;

100 g komkommer, in blokkies of skyfies gekry;

50 g agurkies, in dun skywe gesny;

50 g sprietuie, ekstra fyn gekap; en

gekoopte bros uie.

Maak nou so:

Plaas die hoenderrepies in ’n bak en meng olie, sout en peper na smaak by en braai in ’n groot pan (wat vooraf op die plaat verhit is) vir 3 tot 4 minute tot gaar.

Haal die gaar hoender van die stoof af en plaas in ’n skoon bak en gooi die asyn oor. Los vir 5 minute eenkant.

Plaas die slaaiblare in ’n groot mengbak, gooi die slaaisous oor en meng goed sodat elke slaaiblaar bietjie sous op het. Rasper nou ’n bietjie parmesaankaas fyn, strooi oor en meng deur.

Voeg nou die komkommer, agurkies en sprietuie by en meng goed deur.

Meng nou die hoender en enige sap en asyn uit die bak, by.

Sit voor deur bietjie bros uie oor te strooi en die slaai in vier bakke te verdeel. Strooi nog parmesaankaas, slaaisous en uie bo-oor en bedien.

You need to be Logged In to leave a comment.