Koedoe-rugstringfilet, ingevryf met masala.


Die gewilde De Oude Kraal WildsKOSfees word oor ’n raps meer as twee weke aangebied waar gaste kan smul aan van die lekkerste wildskosgeregte.

Marie Lombard en haar span werk kliphard daaraan om die oorspronklike resepte uit te werk wat die potensiaal van wildsvleis tot sy reg laat kom.

Benewens die wildsvleis, bees-, vark-, skaap- en hoendergeregte asook heerlike bykosse en souse, is daar vanjaar op Saterdag 10 Junie ’n unieke proe-saal waar gourmet-happies by ’n wyn van elk van die 23 wynlandgoedere gepas word.

Die sjefs Patso Nikolov en Reinette Enslin werk vanjaar saam met Marie om uitsonderlike smulhappies in die BBP-saal te skep.

Vir almal wat hierdie winter gaan jag en self wil eksperimenteer met wildsresepte, hier is Marie se resep vir koedoe-rugstringfilet, ingevryf met masala en bedien met olyftapenade, roketsous, botterskorsie en beesmurg.

Benodighede vir die rugstring:

Verouderde koedoe-rugstring

15 ml rooiblaar-masala

30 ml olyfolie

5 ml swartpeper

growwe sout

roosmaryn na smaak

Olyf Tapenade

2 koppies kalamata-olywe

½ koppie kappertjiesaad

¼ koppie olyfolie

¼ koppie suurlemoensap

1 teelepel suurlemoenskil

swart peper

sout na smaak

Verpulp al die bestanddele saam in voedselverwerker.

Rokketroomsous

1 liter room

1 ui fyngekap

1 blokkie hoender-aftreksel opgelos in warm water

500 g vars roketblare, fyngesny

Sny die ui fyn en braai in botter en groentespeserye. Gooi room by en kook tot die room stadig dik word. Gooi die roket en hoenderaftreksel by en roer deur.

Berei voor:

Koedoe-rugstringfilette en maak seker dat alle senings verwyder is.

Vryf die rugstring met goeie gehalte masala.

Gooi olyfolie om te verhoed dat die rugstring uitdroog.

Strooi ’n bietjie sout en peper na smaak oor.

Seël die filet, sny in skyfies en braai na smaak – verkieslik medium tot rou.

Smeer die tapenade op ’n bord en plaas die koedoefillet bo-op. Gooi die sous bo-oor.

Bedien saam met botterskorsie-fondant wat in die oond gebak is met botter en groentespeserye en beenmurg met sout en peper na smaak.

You need to be Logged In to leave a comment.